Welpies brul tydens 0.13 Cravenweek
Kaalvoet en al het die Luiperds se o.13 Coca-Cola Cravenweek-span bewys dat hulle met hul gees en doelgerigtheid hul teenstanders kon wys waar Dawid die wortels gegrawe het. Die welpies het in hul vier Cravenweek wedstryde teen sterk teenstanders met twee oorwinnings en twee nederlae huis toe gegaan na ’n uitdagende toernooi waar die room …
Kaalvoet en al het die Luiperds se o.13 Coca-Cola Cravenweek-span bewys dat hulle met hul gees en doelgerigtheid hul teenstanders kon wys waar Dawid die wortels gegrawe het.
Die welpies het in hul vier Cravenweek wedstryde teen sterk teenstanders met twee oorwinnings en twee nederlae huis toe gegaan na ’n uitdagende toernooi waar die room van Suid-Afrika se jong rugbyspelers hul talent bewys het.
Die o.13 Cravenweek is vanjaar van 29 Junie tot 3 Julie by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier aangebied, met die Westelike Provinsie wat as die top span gekroon is.
Die Luiperds het hulle Cravenweek met ’n naelbyt 20-15 nederlaag teen ’n sterk Bolandspan afgeskop. Albei spanne was kop-aan- kop gedurende die kragmeting en het mekaar geen gapings gegee om die oorhand te neem nie.
Die 10-10 telling met die blaas van die halfeindfluitjie was ’n goeie aanduider van hoe kompeterend albei spanne is. Boland se Curwin Gertse was wel een van die uitblinkers en het met twee strafskoppe, ’n drie en ’n verdoeling sy span oor die lyn gebring.
Armand Cloete, wat een van die Luiperds se staatmakers gedurende die week was, het nege minute voor die eindfluitjie ook sy stem met ’n drie dik gemaak. Met nege minute speeltyd oor was enige iets moontlik, maar die span van die Noordwes kon nie verder inbreuk maak nie en moes tevrede wees met die nederlaag.
Hierdie nederlaag het wel veroorsaak dat die Luiperds met hernude wilskrag na die rugbyveld teen die Oostelike Provinsie die volgende dag sou terugkeer.
Hierdie keer was die Luiperds aan die regte kant van die telbord met ’n skrale 18-17 oorwinning. OP kon niks doen aan ’n vasberade Luiperdspan wat met drie drieë in die tweede helfte hul eerste sege in vanjaar se week beklink het.
Weer eens was Cloete die held met twee drieë, terwyl Theuns Steyn se skopvoet en drie in die doodsnikke van die wedstryd ’n uitstekende oorwinning verseker het. Die Luiperds het in hul derde wedstryd nog ’n oorwinning behaal en op hul momentum voortgebou toe hulle Grens gemaklik met 27-15 oorwin het.
In hulle laaste wedstryd van die week is hulle wel vinnig aarde toe gebring toe hulle teen die seuns van KwaZulu-Natal met 24-3 gesneuwel het.
Dit was ’n ongelukkige laaste wedstryd vir die Luiperds wat net nie KZN se waterdigte verdediging kon deurbreek nie. Nogtans kan die jong seuns trots wees op hulle vertoning, meen hul spanbestuurder Benje Ouwenkamp.
“Die outjies het baie goed gespeel en het regtig bo hulle vermoë presteer. Om beide Grens en die OP te kon klop was iets besonders. Ons is baie trots,” het hy beaam.



