Luiperds wen twee uit drie wedstryde by gesogte Cravenweek
Die o.18 Cravenweek het oudergewoonte weer bewys watter talentvolle spelers Suid-Afrika op skolevlak het. Die o.18 Luiperds het ‘n goeie week beleef waar hulle twee van hul drie wedstryde gewen het met ‘n klompie spelers wat hulle hand opgesteek het. Danksy twee skepskoppe van André Kock het die Luiperds hul eerste oorwinning in vanjaar se …
Die o.18 Cravenweek het oudergewoonte weer bewys watter talentvolle spelers Suid-Afrika op skolevlak het. Die o.18 Luiperds het ‘n goeie week beleef waar hulle twee van hul drie wedstryde gewen het met ‘n klompie spelers wat hulle hand opgesteek het.
Danksy twee skepskoppe van André Kock het die Luiperds hul eerste oorwinning in vanjaar se o.18 Cravenweek teen Griekwas Platteland met 18-17 gevier. Dit nadat hulle hul eerste wedstryd met 28-17 teen Griekwas verloor het nadat hulle in daardie wedstryd teen halftyd voorgeloop het.
In hulle finale wedstryd het hulle die Limpopo Blou Bulle met 42-17 ore aangesit met ’n pragvertoning waar aanvallende rugby aan die orde van die dag was. Griekwas se oorwinning in die eerste wedstryd is danksy Janco Cloete se driekuns wat hy in die tweede helfte afgerond het en sodoende die wedstryd buite die beheer van die Luiperds gebring het.
Die wedstryd het op ‘n omstrede wyse begin toe die Luiperds se flank, Johan Dettman, in die tweede minuut met ‘n geelkaart afgestuur is. Dit het wel nie die Luiperds se veggees gedemp nie en slot Jacobus Dreyer van Volkies is kort daarna oor vir die eerste drie.
Inus Vermeulen van Gimmies het die Luiperds se tweede drie aangeteken. Die Luiperds se staatmaker kaptein en agtsteman, Edmund Rheeder het ook voor die halftydfluitjie onder die pale gaan kuier, wat die Luiperds ‘n drie punt voorsprong gegee het.
Die tweede helfte was ‘n ander storie en die Luiperds kon glad nie ‘n enkele punt behaal nie. Die manne van die Noord-Kaap was gans te sterk en het met hul groter spandiepte die taak deurgevoer. Griekwas se Rian Kotze het ook ‘n drie gedruk, met Cloete wat sy briljante vertoning met sy span se vierde drie afgerond het. In die tweede wedstryd was die Luiperds en Griekwas Platteland kop-aan- kop met albei spanne wat twee drieë gedruk het.
Volkies se Ryno Visagie het vir die Luiperds oorgeduik, maar in daardie stadium was hulle steeds agter. Kock het wel met ’n skepskop die bordjies verhang en weer eens bewys hoe belangrik die faset van die spel is. Rheeder, een van die staatmakers van die toernooi, het met sy spel beïndruk en in die wedstryd teen die Limpopo Blou Bulle sy span na ’n lekkerkry sege geneem.
Gimmies se Inus Vermeulen was eerste oor die doellyn met Visagie en Rheeder wat ook gaan druk het. Die Limpopo Blou Bulle het geen antwoord vir die Luiperds se tweede helfte aanslag gehad nie, met die Luiperds wat 30 punte bygevoeg het.



