O.21 Luiperds begin hulle seisoen met mening
Die ABSA o.19- en o.21-kompetisies het die afgelope naweek met aanvallende rugby as prioriteit afgeskop, met beide Luiperdspanne wat teen die Oostelike Provinsie (OP) Kings op Olën Park gespeel het. Die o.21’s het met vier drieë ‘n 28-8 bonuspunt oorwinning behaal en kan met ‘n goeie smaak in hulle mond na hulle volgende kragmeting teen …

Die ABSA o.19- en o.21-kompetisies het die afgelope naweek met aanvallende rugby as prioriteit afgeskop, met beide Luiperdspanne wat teen die Oostelike Provinsie (OP) Kings op Olën Park gespeel het.
Die o.21’s het met vier drieë ‘n 28-8 bonuspunt oorwinning behaal en kan met ‘n goeie smaak in hulle mond na hulle volgende kragmeting teen die Goue Leeus uitsien.
Die o.19’s het wel teen hul teenstanders klippe gekou met ‘n 42-24 nederlaag met ‘n paar vraagtekens wat rondom hulle verdediging opgeduik het. Die o.21 Luiperds kan veral trots wees op die manier hoe hulle die Kings veral in die skrum totaal en al oorheers het, wat ’n stewige platform vir senter, Jaco Hayward, gegee het om twee drieë te druk.
Zander Schlemmer, Wilmar Arnoldi en Jaco Botha het ‘n puik vertoning in die voorry gelewer wat ‘n baie goeie teken vir die res van die seisoen is.
Die besoekers het wel die wedstryd soos blits begin met heelagter Malcolm Jaer wat na ‘n beplande agterlynbeweging oor die doellyn gaan duik het.
Dit was wel die eerste en laaste geluk vir die Kings wat vir die res van die wedstryd binne die kake van die Luiperds se druk was. Kaptein, Jeandre Rudolph en slot Walt Steenkamp het met twee drieë in die eerste helfte die tuisspan in ‘n wen- posisie geplaas met die momentum wat stelselmatig teen halftyd (14-5) geswaai het.
Steenkamp se drie het vanuit aanhoudende druk vanaf die vyf meter lyn ontstaan, waar daar met beweging na beweging uiteindelik goeie resultate opgelewer is. “Dit was ‘n goeie begin om in die eerste week met ‘n oortuigende wen af te skop,” het die afrigter van die o.21 Luiperds, Johann Laker, gesê.
Die span speel Vrydag in hulle tweede wedstryd teen die Goue Leeus op Olën Park en dit begin om 18:40. “Die Goue Leeus is een van die sterkste spanne in die groep en ons sien uit na ‘n groot wedstryd teen hulle,” het Laker bygevoeg.
Punte: Luiperds: Drieë: Jaco Hayward (2), Jeandré Rudolph, Walt Steenkamp. Doelskoppe: Schalk Hugo (4).
OP: Drie: Malcolm Jaer. Strafdoel: Simon Bolze.