Voormalige Springbok leer nou vir jonges vaardighede
Op Potchefstroom se rugbyvelde is daar ‘n 2007 rugby Wêreldbeker wenner wat weekliks sy jare se kennis aan ‘n nuwe generasie oordra. André Pretorius, die voormalige Springbok en Leeus losskakel, is die brein agter die indrukwekkende iSkills rugbykliniek wat melkbaarde tegnieke en vaardighede aanleer om in rugby uit te blink. “Die regte tegnieke maak ‘n …
Op Potchefstroom se rugbyvelde is daar ‘n 2007 rugby Wêreldbeker wenner wat weekliks sy jare se kennis aan ‘n nuwe generasie oordra. André Pretorius, die voormalige Springbok en Leeus losskakel, is die brein agter die indrukwekkende iSkills rugbykliniek wat melkbaarde tegnieke en vaardighede aanleer om in rugby uit te blink. “Die regte tegnieke maak ‘n groot verskil. Dit gaan wel vir my meer as net oor rugby. Ek wil die outjies lewensvaardighede ook aanleer. Dit gaan oor rugby op en van die veld af,” vertel Pretorius opgewonde. Pretorius het iSkills in 2006 begin toe hy op die krukkelys was en ’n gaping in die mark vir kwaliteit afrigting op skoolvlak in Johannesburg raakgesien het. Eers nadat hy in Potchefstroom gekom het, kon hy meer moeite insit aangesien hy nie meer op die hoogste internasionale vlak rugby gespeel het nie. “Hier is ‘n lekker klein gemeenskap waar ’n mens duidelik ‘n verskil kan sien. Die terugvoer wat ons kry is ook baie goed,” vertel hy verder. Volgens Pretorius is sy rugby afrigting by iSkills geskoei op beide spanwerk en spandinamika sowel as individuele vaardighede waar rugbyspelers daardie x-faktor in wedstrydsituasies kan gee. ‘n Belangrike konsep waarop ook gefokus word is die veiligheid van spelers en hoe om beserings op ‘n jong ouderdom in kontaksituasies te voorkom. “Veiligheid is vir my prioriteit sowel as om dit vir die ouens lekker te maak. Hulle moet dit geniet.”Pretorius noem dat daar ‘n sessie per week is waar onderskeidelik op balhantering en aanval, kontak- en afbreekpunte sowel as verdediging gefokus word. “Ons sal byvoorbeeld die spelers leer om basiese vaardighede onder die knieg te kry en dan ook ander vaardighede soos om links aan te gee te verskerp. Verder is daar ook individuele aandag waaraan spesifieke aspekte aandag gegee word,” brei hy uit. Die sessies is ook klaar beplan voor die tyd en dit gee Pretorius kans om ’n meer direkte betrokkenheid by die spelers te hê. “Dit is vir my ontsettend lekker om steeds by rugby betrokke te wees. Ek kon nie na my loopbaan dit net los nie,” meen Pretorius. Die trotste oomblik vir Pretorius op die rugbyveld was toe hy met sy suksesvolle strafdoel in 2006 vir die All Blacks in Rustenburg op die Royal Bafokeng-stadion gekelder het. Sy skop in die doodsnikke van die wedstryd het verseker dat die All Blacks nie die rekord vir die meeste agtereenvolgende oorwinnings (15) behaal nie. “Na die wedstryd het Jake White (voormalige Springbok afrigter) vir my gesê hoe trots hy op my was. Dit was baie spesiaal vir my,” onthou hy. Oefeninge vind in die week tussen 14:00 en 17:00 by Hoërskool Volkskool plaas. Vir meer inligting stuur ‘n e-pos na iskillscoach@gmail.com Kyk hier vir foto’s: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/2410/fotos-andre-pretorius-maak-jonges-touwys/



