Niks kan Gimmies en KHS in bekerstryd skei
Die eerstespan wedstryd tussen Gimnasium en KHS om te bepaal wie die wenner van die Beeldtrofee vir Grootskole vir Noordwes sal wees, het na 70 minute van klipharde spel in die laaste minuut gelykop geëindig met 15 punte elk. KHS het eerste punte aangeteken, maar belangriker was dat Inus Vermeulen die eerste drie van die …
Die eerstespan wedstryd tussen Gimnasium en KHS om te bepaal wie die wenner van die Beeldtrofee vir Grootskole vir Noordwes sal wees, het na 70 minute van klipharde spel in die laaste minuut gelykop geëindig met 15 punte elk.
KHS het eerste punte aangeteken, maar belangriker was dat Inus Vermeulen die eerste drie van die wedstryd gedruk het. Die reëls bepaal dat die span wat die eerste drie druk, sal deurgaan as die “wenner” vir die verdere rondes van die Beeldtrofee. KHS het ook in die eerste helfte gedruk om te gaan water drink met ‘n voorsprong van drie punte: 10-7.
Dit was eers in die 24e minuut dat Vermeulen weer na verskeie fases kon deursuiker vir sy tweede drie. Die doelskop was nie daar nie en Gimmies se voorsprong ‘n skrale twee punte: 12-10.
Drie minute voor die einde trap Gimmies se losskakel, Casper Dreyer, vas met ‘n skepdoel en die gaping rek na vyf punte. KHS skop in, Gimnasium verloor besit en toe hulle wakker skrik, is die sterk KHS senter Machiel le Roux op pad doellyn toe.
Hy beur oor die lyn en die telling is 15 elk. Die o.16-wedstryd was ook ‘n riller: Gimnasium was teen rustyd gemaklik met 10-0 voor, maar toe veg KHS terug en neem met twee drieë die voortou: 12-10. Gimmies druk in die laaste oomblikke om die wedstryd 15-12 te wen.
Volkskool se o.15’s is die Noordwes kampioen na hulle Gimmies met 15-7 geklop het. Volkskool se o.14’s moes weer die knie buig voor die magtige KHS-span maar darem nie weer met ‘n reuse telling soos in die liga nie (78-O). Die keer verloor hulle met 28-0;
Die agt spanne speel soos volg in die volgende ronde, almal in weg wedstryde:
1e spanne:
Gimnasium teen Overkruin (Pta) en KHS teen Piet Retief
o.16’s: Gimnasium teen Tuine (Pta) en KHS teen Hoogenhout (Bethal)
o.15’s: Volkskool teen Pta Noord en Gimnasium teen Piet Retief
o.14’s: KHS teen Pta Noord en Volkskool teen Genl Hertzog (Witbank).
Die enigste manier waarop daar weer ‘n tuiswedstryd vir Noordwesspanne kan wees, is as die twee eerstespanne bly wen en mekaar in die eindstryd pak, iets wat beslis moontlik is, gegewe die puik spel wat Saterdag opgedis is.



