Potch se perderuiters ken van vasbyt
Die Fauresmith 200 Uithourit word as een van die moeilikste ter wêreld beskou en is nie bedoel vir sussies nie. Twee van die Potchefstroom Uithouritklub se gesogte Arabierperde met Gretha Botha en Ilené Grobbelaar op hulle rue het die 201 kilometer vanuit Fauresmith oor drie dae aangedurf en met vlieënde vaandels die eindstreep behaal. Grobbelaar …
Die Fauresmith 200 Uithourit word as een van die moeilikste ter wêreld beskou en is nie bedoel vir sussies nie.
Twee van die Potchefstroom Uithouritklub se gesogte Arabierperde met Gretha Botha en Ilené Grobbelaar op hulle rue het die 201 kilometer vanuit Fauresmith oor drie dae aangedurf en met vlieënde vaandels die eindstreep behaal.
Grobbelaar (junior ruiter) met Ras-El-Bandar Nerina en Botha met Ras-El-Bandar Masarrah het die rit suksesvol voltooi, asook Ilse Hugo van Gauteng met Ras-El-Bandar Shalal.Ras-El-Bandar Arabierstoet van Potchefstroom het drie van hulle perde ingeskryf vir die uitmergelende rit.
Ras-El-Bandar se nuwe afrigter, Thinus Sonnekus het skaars ‘n maand gehad om die perde af te rond vir die rit en het hom goed van sy taak gekwyt.Die rit is nie die moeilikste as gevolg van die afstand nie, maar omdat ruiters lang afstande oor ‘n baie moeilike baan met ekstreme toestande moet voltooi.
Die ruiters en perde is afhanklik van hul versorgingspan wat moet regstaan as hulle by die verskillende veearts ondersoekpunte aankom op die baan. Dit is juis dié gekombineerde spanpoging wat tot sukses lei.
Gelukkig is dit een van die bes georganiseerde uithouritte met veeartse wat die perde se toestand na elke 25 kilometer monitor voordat die perd verder die Vrystaatse veld kan invaar.
“Dit is ’n moeilike rit, want jy is afhanklik van die perd se toestand en hoe hy gekondisioneer is voor die tyd. Dan is daar nog die klipperige landskap wat baie uitdagings inhou.
Dit is ’n groot prestasie om die rit te voltooi,” vertel Gretha wat nou al vir vier jaar aan uithouritte deelneem. Gretha met haar perd Ras-El-Bandar Masarrah is ook vir die Noordwes se A-span gekies.Ilené (15) van Hoërskool Ferdinand Postma is dalk nog deel van die junior kategorie, maar ry al perd vandat sy sewe jaar oud is, nadat haar oupa vir haar ’n perd gekoop het.
“Dit is een van die lekkerste gevoelens wat daar is om net tyd saam met jou perd te spandeer. Jy bou ‘n baie hegte band met jou perd. Dit gaan ook baie oor vertroue dat jy weet dat beide perd en ruiter saam die eindstreep sal haal,” sê Ilené.
Die totale ryafstand van 201 kilometer word voltooi oor drie dae. Die eerste twee dae word daar 75 kilometer gery, met die laaste dag wat 50 kilometer in totaal is.
Vanjaar het 344 ruiters en perde die wedloop begin, waarvan slegs 161 die rit suksesvol voltooi het – dit wil sê net 46,8% was suksesvol.