SportSport

Tennisspeler mik groot na Olimpiese droom

Haastig en met doelgerigtheid jaag hy elke bal asof sy lewe daarvan afhang. Gewapen met ’n tennisraket slaan hy ’n geweldige voorhand oor die net buite die bereik van sy teenstander. Dit doen hy alles sonder die gebruik van sy bene, in ’n spesiale rolstoel wat vir tennis ontwerp is. Leon Els (27) is Suid-Afrika …

Haastig en met doelgerigtheid jaag hy elke bal asof sy lewe daarvan afhang. Gewapen met ’n tennisraket slaan hy ’n geweldige voorhand oor die net buite die bereik van sy teenstander.

Dit doen hy alles sonder die gebruik van sy bene, in ’n spesiale rolstoel wat vir tennis ontwerp is. Leon Els (27) is Suid-Afrika se nommer twee mans rolstoel tennisspeler en tans nommer 30 in die wêreld.

Leon is nou welbekend oorsee en gebruik sy nuutgevonde sporttalent nadat een enkele gebeurtenis sy ander sportliefdes in ’n oogwink kortgeknip het.

“Ek is nie met ’n gebrek gebore nie. Ek het gevoel in my onderlyf verloor en is verlam nadat ek in ’n motorongeluk was in matriek,” vertel hy, sy oë groot soos albasters in herinnering vasgevang.

Leon was ’n kranige rugbyspeler wat Cravenweek rugby sou speel, maar op pad na ’n Luiperdswedstryd in ’n motorongeluk sy rug gebreek het. “Ek was altyd baie gefokus op atletiek, rugby en krieket. Ek is wel met tennis ’n tweede kans gegun om my liefde vir sport uit te leef,” vertel hy.

Dit was in sy tweede jaar by die PUK waar Leon gevra is of hy rolstoelsport doen. Leon was geïnteresseerd, aangesien hy nog altyd fiks en sterk was en het toe begin tennisballe slaan. “Ek was in die begin maar baie oningelig en die eerste paar jaar was ’n groot leerervaring om aan die beweging in die spesiale rolstoel gewoond te raak,” het Leon gesê, wat na drie jaar internasionaal begin kompeteer het.

Leon het vanjaar die Soweto- en Pretoria-ope gewen en hy ag dit as van sy belangrikste oorwinnings aangesien dit hom daardie ekstra dryfkrag gegee het wat hy nodig gehad het. Leon neem deel aan die ope-klas vir gedeeltelik verlamde tennisspelers en was sover tot so hoog as 28ste op die wêreldranglys.

Tans is sy doelwit om die Olimpiese Spele in 2016 te haal. “Dinge lyk goed want ek moet net die top 32 haal om deel te neem. Ek kort net ’n nuwe stoel,” sê Leon, wat vir ’n rukkie nou al met ’n ouer stoel moet sit wat sy beste dae al gesien het. Gelukkig vir Leon het die NWU ingestem om vir hom ’n nuwe stoel te laat maak wat die ure op die baan meer gemaklik en doeltreffend sal maak.

“Arno de Beer by NWU se fisiese infrastruktuur department is besig met hierdie projek wat Leon baie gaan help,” vertel sy afrigter Louis Bartlett van die Riaan Venter Tennisakademie. Louis is ook baie beïndruk deur Leon se spel die afgelope tyd en glo vas dat Leon baie potensiaal het, veral omdat hy harde werk insit en ure op en van die baan spandeer.

“Leon kan nie stil wees en niks doen nie. Hy is altyd besig en is doelgerig om die beste te wees. Hy sal balle jaag wat mens dink onmoontlik is om by uit te kom, sê Louis. Dié tennisspeler is ook vol lof vir sy afrigter, wat sy spel aansienlik verbeter het en altyd daar is om hom aan te moedig en vir sy toernooie voor te berei.

“Louis het my tennis baie verbeter en ons werk lekker saam. Ek oefen elke dag tennis en daar is vir my niks lekkerder nie,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button