SportSport

Gimnasium se lopiemasjien woeker met sy kriekettalent

Soli Deo gloria Hierdie drie woorde pronk op sy staatmaker Bellingham & Smith-kolf wanneer hy nog ’n vyftig- of honderdtal vir sy span aanteken, en sy kolf na boontoe wys om die eer aan God te betoon. Lourén Steenkamp het ook onlangs sy kolf met ‘n 200-tal na sy ouers gewys, om sy waardering aan …

Soli Deo gloria

Hierdie drie woorde pronk op sy staatmaker Bellingham & Smith-kolf wanneer hy nog ’n vyftig- of honderdtal vir sy span aanteken, en sy kolf na boontoe wys om die eer aan God te betoon.

Lourén Steenkamp het ook onlangs sy kolf met ‘n 200-tal na sy ouers gewys, om sy waardering aan hulle te bevestig vir hulle toewyding en ondersteuning in sy sport.

Sonder mediese hulp en die Here se genade sou Lourén dalk nooit sy kolf vir nog ’n uitstekende 200-tal kon lig, of as die krieketspeler van die jaar benoem kon word nie. Dit is net ’n blote seën dat hy steeds krieket kan speel na ’n fratsongeluk in graad 1, waartydens sy hand lelik gesny is deur ‘n glasvenster.

Dit is waarom hierdie matriekleerling vir sy krieket leef, en dit met oorgawe speel. Hierdie seisoen het Lourén mooi begin, en reeds sy kolf vier keer in een beurt kon oplig toe hy 204 lopies nie uit, in die eerste ligawedstryd teen HTS Potchefstroom gemaak het drie naweke terug. Hy het dit opgevolg met 175 lopies in die daaropvolgende wedstryd teen Rustenburg.

“Voor ek kolf sal ek altyd eers bid. Ek speel ook gewoonlik die heel eerste bal en hou daarvan om dadelik in die aksie te wees, en ek hou van die verantwoordelikheid wat ’n openingskolwer het,” vertel Lourén.

Baie afrigtingsessies en die feit dat hy ook baie in sy privaat- en vakansietyd oefen, is bydraende faktore tot sy sukses. Interessant genoeg het Lourén toe hy jonger was, groot lof vir die Australiese krieketspan gehad, en het veral na hulle voormalige paaltjiewagter Adam Gilchrist opgekyk. Hy het steeds groot lof vir Michael Clarke van Australië, en dan natuurlik vir Jacques Kallis van SA.

Lourén se talent is op ’n vroeë ouderdom deur Boet Hurn geïdentifiseer, wat baie tyd met hom voor die boulmasjien deurgebring het. Ander rolspelers wat daarna ‘n groot impak op die ontwikkeling van sy krieket gehad het, was Leonard Lemmer, Erik Wyma, Braam de Villiers, asook Oom Percy du Toit, ‘n sportsielkundige.

Hy het groot waardering vir almal van hulle se bydrae. Een van sy mooi herinneringe is toe hy vir die o.15 Noordwesspan ’n onoorwonne 55 op Kingsmead in Durban in die finaal teen die Vrystaat geslaan het, en dat die Noordwes-span die trofee kon inpalm tydens die nasionale toernooi.

“Dit is vir my belangrik om in myself te glo, en om die talent wat die Here my gegee het, tot Sy eer te gebruik. Krieket is egter ‘n span-sport, en elke speler in die span het ‘n rol om te speel,” sê hy.

Noemenswaardige prestasies tot op datum:

•Verteenwoordig die Noordwes Provinsie elke jaar sedert hy in die hoërskool is.

•Word in 2014 die eerste speler van Potchefstroom Gimnasium wat 1 000 lopies in ’n seisoen behaal, deur ‘n totaal van 1 634 lopies vir die eerstespan in die 2013/2014 seisoen aan te teken.

•In die 156 wedstryde in sy hoërskool krieketloopbaan tot op hede maak hy 6 939 lopies, wat drie 200-talle, 14 honderdtalle en 37 vyftigtalle insluit (op skool-, klub- en provinsiale vlak).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button