Pasop Lewis, hier kom Blondie!
Soos ‘n wit blits jag daar ‘n kampioen om die renbaan. Die renmotor maak sy kenmerkende geluid terwyl die ervare renjaer spoed opbou en elke draai houtgerus aanpak. Dit is weereens geen verrassing dat Blondie die eerste een oor die wenstreep is nie. As Blondie wel haar valhelm afhaal dan kan ‘n mens amper nie …
Soos ‘n wit blits jag daar ‘n kampioen om die renbaan. Die renmotor maak sy kenmerkende geluid terwyl die ervare renjaer spoed opbou en elke draai houtgerus aanpak.
Dit is weereens geen verrassing dat Blondie die eerste een oor die wenstreep is nie.
As Blondie wel haar valhelm afhaal dan kan ‘n mens amper nie glo dat hierdie oulike 11-jarige dogtertjie naweek na naweek die seuntjies en dogtertjies op nasionale renbane wegjaag nie.
Marlie “Blondie” Saaiman mag dalk klein en fyn wees, maar op die renbaan is sy die ene Lewis Hamilton, waar sy haar passie vir spoed al van ‘n jong ouderdom af uitleef.
Nes Hamilton in 2015 het sy ook haar staal gewys met haar tweede agtereenvolgende Rock Raceway Club kampioenskaptitel. Hierdie is maar net nog ‘n wentrofee vir Marlie wat al by die World Of Motorsport ZA Championship verskeie trofeë verwerf het.
Marlie is in haar ouderdomsklas (wat deur jong meisies gedomineer word) betrokke by Kids in Racing met ovaalbaanwedrenne waar konstante spoed van kardinale belang is. Trurat is daar nie. Dit is ‘n gedurige voet in die hoek ervaring en iets wat dié spoedvraat veral geniet.
“Dit is vir my baie lekker om vining te ry en dan natuurlik om te wen, sê Marlie wat gewoonlik haar hand triomfantlik lig. In haar groen renmotor kan sy ‘n topsped van 80-90 kilometer per uur handhaaf, maar veiligheid is steeds die top prioriteit.
Haar ouers, Willie en Maryna Saaiman, is al jare betrokke by motorsport en lewe vir elke aspek van motorsport. Daar word altyd aan motorkarre en motorparte gewerk en gebou wat werklik ‘n lewenswyse vir die gesin is.
“Sy is so te se gebore by die renbaan,” grinnik haar pa, wat haar sedert 2011 vir Marlie aan die adrenalienbelaaide sport bekendgestel het. “Van jongs af ry sy al rond en ek kon duidelik sien dat sy nog baie ver sou kom, veral toe sy in 2014 die SA’s in Richardsbaai en Welkom gewen het,” voeg hy trots by.
“Sy is baie bevoorreg om van so jong ouderdom in die sport betrokke te wees. Ons is baie bly om deel van alles te wees en saam die mylpale te kan vier,” vertel haar ouers wat soms ver moet ry na haar wedrenne toe.
Haar kamer is ‘n verdere uitbeelding van wedrensukses met trofeebelaaide rakke en kaste sowel as plakkatte en fotos. Steeds is daar ‘n klomp sagte diere en ander meisiegoed wat haar kamer ‘n unieke kontras gee.
Hierdie jaar is Marlie weer gereed vir aksie en droom sy verder van haar eerste groot wedren op die wêreld se bekendste bane.
“Dit sal my wens wees om in die V8 klas te kan deelneem eendag,” vertel sy opgewonde, terwyl haar ouers met glimlagte na hul “Blondie” kyk.




