Pukreeks: Gimmies en Volkies raak slaags in Vanderbijlpark
Die Pukke Prestige-reeks het die kwarteindrondte-fase bereik en twee groot Potch teenstanders gaan teen mekaar vir ‘n plek in die laaste vier kompeteer. Die verdedigende kampioene, Potchefstroom Gimnasium, gaan teen Potchefstroom Volkskool te staan kom, maar nie in Potchefstroom nie. Vir ‘n slag gaan die groot tweestryd op 16 April by die Isak Steyl Stadion …
Die Pukke Prestige-reeks het die kwarteindrondte-fase bereik en twee groot Potch teenstanders gaan teen mekaar vir ‘n plek in die laaste vier kompeteer.
Die verdedigende kampioene, Potchefstroom Gimnasium, gaan teen Potchefstroom Volkskool te staan kom, maar nie in Potchefstroom nie.
Vir ‘n slag gaan die groot tweestryd op 16 April by die Isak Steyl Stadion in Vanderbijlpark plaasvind, waar al die kwarteindstryde gespeel gaan word.
Gimmies gaan met effens meer momentum in die wedstryd in nadat hulle vir Hoërskool Die Anker van Brakpan met 34-15 geklop het.
Uitblinkers vir Gimmies was Edrich Cronjé (losskakel) wat ook die man van die wedstryd was, asook die slot Juan Smit en flank, Jaco Schoeman. Herman de Jong, Willie Steenkamp, Juan Smit, Edrich Cronjé en Martin Linde het Gimmies se drieë gedruk. Cronjé slaag ook met drie doelskoppe en een strafdoel.
Volkies het in hulle vorige wedstryd vir die eerste keer vanjaar verloor toe hulle die knie teen Hoërskool Zwartkop met 35-20 moes buig. Jandré Steyn en Cornel Schoonhoven het Volkies se drieë aangeteken, terwyl Hanru van Rooyen met sy skopvoet vir twee strafskoppe en twee doelskoppe gesorg het. Albei spanne het wel tot dusver ’n goeie toernooi beleef en sal alles in hulle vermoë doen om breëbors terug te keer Potch toe.



