Potchefstroom Dorp Rolbalklub se rolmodel
Sy oë is pure konsentrasie wanneer hy die rolbal in sy regterhand het. Hy neem ’n stap vorentoe en laat die rolbal sy hand grasieus verlaat. Met ongeëwenaarde konstantheid vorder die bal meter vir meter op die grasgroen rolbalbaan nader aan die teiken. Bietjie vir bietjie draai die bal met ’n kurwe en totdat dit …
Sy oë is pure konsentrasie wanneer hy die rolbal in sy regterhand het. Hy neem ’n stap vorentoe en laat die rolbal sy hand grasieus verlaat. Met ongeëwenaarde konstantheid vorder die bal meter vir meter op die grasgroen rolbalbaan nader aan die teiken. Bietjie vir bietjie draai die bal met ’n kurwe en totdat dit tot stilstand kom. Die eindresultaat is meesterlik – ’n presiesheid waarop chirurge sou trots wees. Dié rolbalmeester is niemand anders as Potchefstroom Dorp Rolbalklub se nederige juweel, Pierre Breitenbach nie.
Sy kerfstok is op die jong ouderdom van 29 al met talle prestasies versier. Hy is die jongste speler in SA Rolbalgeskiedenis wat op 21 reeds Proteakleure verwerf het. Buiten dit het hy in 2014 goud in die Driespel by die Statebondspele in Glasgow, Skotland gekry.
Een van Pierre se groot hoogtepunte vanjaar was toe hy as die 2016 SA Meesterskampioen gekroon is – dit wil sê die beste mans rolbalspeler in die land.
“’n Mens kan dit nie beskryf nie. Dit is die trofee wat jy die graagste soek in ons land. Dit is teen die top 16 spelers in die land en was ’n groot eer om te wen. Alles het net in plek geval,” vertel Pierre wat dié jaar aan sy vyfde meesterskampioenskappe deelgeneem het.
Al hierdie prestasies maak meer sin as daar na die invloedryke geskiedenis van sy familie in Suid-Afrikaanse rolbal gekyk word. Pierre se pa, Piet, is die voormalige president van SA Rolbal en tans die voorsitter van Potchefstroom Dorp Rolbalklub.
Sy ma, Corrie, is self ook ’n Protea rolbalspeler.
“Ek het ’n jong vriend gehad en ek en hy het altyd maar die balle gevat en gespeel wanneer my pa-hulle klaar geoefen het. Ek het ander sportsoorte ook op skool gedoen, maar later het ek my knie in rugby beseer en besluit om net op een sport te fokus.” Pierre se groot doel na die besering was om al sy fokus in rolbal te sit en ’n Protea te word, omdat hy geweet het dat hy ’n aanvoeling vir die spel het.
“Om ’n Protea te word is een ding, om een te bly is iets heeltemal anders. Ons het kampe waar jy in die top helfte moet eindig om jou status as Proteaspeler te hou.”
Om toernooie te wen vat baie oefening en strategiese beplanning is kritiek. “Ek oefen ten minste drie tot vier keer in die week. Ek sit vir my ’n baan uit om al my skote te oefen en wedstrydscenarios na te maak.” Vir Pierre is visualisering van groot belang sowel as die feit dat jy oor elke liewe bal moet dink.
“Geduld is belangrik, sowel as wilskrag en konsentrasie. Dit is baie soos skaak. Vir daardie oomblik konsentreer jy net op die skoot,” vertel hy. Van Pierre se groot oomblikke was toe hy goud in die driespel by die Statebondspele gekry het in 2014. In 2012 het hy ook silwer in die wêreldkampioenskappe in die vierspel gekry en het by die junior wêreldbeker ook brons in die enkelspel verower.
“My pa en ma is my groot rolmodelle al van jongs af. Ek het altyd gekyk hoe hulle speel en hulself op die rolbalbaan hanteer. Gerry Baker is ook een van my groot rolmodelle teen wie ek al gespeel en gewen het, noem hy. Met rolbalspelers soos Pierre word daar duidelik ‘n voorbeeld gestel vir toekomstige generasies om ook net soos hy te presteer.
Interessante feite:
Gunsteling kos: Braaivleis
Musiek: Enigiets waarvoor ek lus is
Beste lande waarna jy al gereis het: Siprus en Australië
Vyf items wat jy na ’n verlate eiland toe sou vat: My Bybel, my meisie, vuurhoutjies, ’n geweer en biltong.
Wat doen jy in jou vrye tyd: Ek hou daarvan om sport te kyk.



