Luiperds soek nog ‘n bonuspunt oorwinning teen die Welwitchias
Die Luiperds het verlede naweek daarin geslaag om vyf ligapunte bymekaar te maak met hulle 43-22 oorwinning oor die Grens se Bulhonde in Oos Londen. Die oorwinning beteken egter nog nie veel vir die Luiperds se posisie op die punteleer nie. Hulle het darem by die Valke verbygeskuif, maar is met hulle 12 punte na …

Die Luiperds het verlede naweek daarin geslaag om vyf ligapunte bymekaar te maak met hulle 43-22 oorwinning oor die Grens se Bulhonde in Oos Londen.
Die oorwinning beteken egter nog nie veel vir die Luiperds se posisie op die punteleer nie. Hulle het darem by die Valke verbygeskuif, maar is met hulle 12 punte na vyf wedstryde steeds tweede laaste. Griekwas is steeds in die eerste plek met 29 punte en Boland tweede met 21 punte.
Die res van die punteleer vir die kwalifiseerders is: Pumas 20. SWD 15, Griffons 14, Grens 14, Luiperds 12 en die Valke 11. In die wedstryd teen Grens het die Luiperds op die voorvoet begin en teen rustyd 20-10 voorgeloop. Kwiksilwer heelagter Rhyno Smith was terug in die span na hy die vorige wedstryd weens ongesteldheid misgeloop het.
Sy wedstrydbydrae was 19 punte. Hy het, soos Frik du Preez van ouds: “gedrop, gescore en geplace”: ‘n 55 meter skepdoel, ‘n drie vanuit sy helfte van die veld na hy ‘n skop bemeester het en op loop gegaan het, ‘n strafdoel en vier doelskoppe. Loftus Morrison, Wilmar Arnoldi en Johan Deysel het die ander drieë gedruk. Grens het self twee drieë gedruk en 12 punte bygevoeg om die eindtelling 34-22 te maak.
Die Luiperds speel Vrydagaand om 19:00 op Olënpark teen die Namibiese Welwitchias. ‘n Span wat nog nie ‘n enkele wedstryd kon wen nie. Die Luiperds moet eerstens die oorwinning verseker maar ook werk aan hulle punteverskil, iets wat later dalk belangrik kan word. Tans het die Luiperds ‘n negatiewe verskil van 53 punte. (Punte vir 138 punte teen 191) Die Luiperds rus vir kaptein Jeandré Rudolph, Arnoldi, Walt Steenkamp en Mash Mafela vir die wedstryd.
Span teen Welwitchias:
- Rhyno Smith (kaptein), 14. Rowayne Beukman, 13. Johan Deysel, 12. Henko Marais, 11.Bradley Moolman; 10. Benhard Janse van Rensburg, 9. Chriswill September; 8. Marno Redelinghuys, 7. Loftus Morrison, 6. Molotsi Bouwer, 5. Danie Jordaan, 4. Ruan Venter, 3. Bart le Roux, 2. Chukkie van der Westhuizen, 1. Bruce Muller. Reserwes: 16. Dane van der Westhuizen, 17. Lucky Ngcamu, 18. Tiaan Liebenberg, 19. Jaco Jordaan, 20. Malherbe Swart, 21. Cecil Dumond, 22. Gene Willemse.



