SportSport

Klubkampioene “koer”‘ koning vanaf Campbell

Tydens die tweede wedvlug van die resiesduifseisoen vanaf Campbell, oor ‘n afstand van 404 km, het die duiwemanne se duifies behoorlik les opgesê. Die nuwe rigting Kalahari se kant toe het die manne laat twiet: “Ver in die ou Kalahari, daar sukkel die duiwe so!” Verlede jaar se onderskeie klubkampioene van P.P.K en M.R.K. het …

Tydens die tweede wedvlug van die resiesduifseisoen vanaf Campbell, oor ‘n afstand van 404 km, het die duiwemanne se duifies behoorlik les opgesê. Die nuwe rigting Kalahari se kant toe het die manne laat twiet: “Ver in die ou Kalahari, daar sukkel die duiwe so!”

Verlede jaar se onderskeie klubkampioene van P.P.K en M.R.K. het egter gewys hoekom hulle die kampioene was in hulle onderskeie klubs. By Mooirivier resiesduifklub wen Johan Schlebusch die opewedvlug gemaklik met 2 minute 26 sek.

Arrie Marais eindig tweede, Willem Moolman derde, Hennie Aucamp vierde en afgetrede hooflanddros Des Humpel vyfde.

Kiewiet Marais van Potchefstroom posduifklub maak die opevlug gemaklik syne met plekke 1,2 en 4. Klubkampioen van 2014, Sarel Naude wys ook dat hy vanjaar terug is met spoed met sy derde plek. Saltie en Lettie eindig hier vyfde en sesde. In die jaaroud afdeling het oud skoolhoof Faan de Beer gewys hy gaan vanjaar vir ‘n slag weer duiwe vlieg, met sy wen oor Kiewiet en Christo hokke. Kiewiet eindig hier slegs ses en agt sekondes na De Beer. ‘n Groot verrassing is die terugkeer van Johan Kirsten van Kirsten hokke met sy vierde. Die terugkeer na baie jare sal verseker vir nuwe opwinding sorg by P.P.K.

In die jaaroud afdeling by M.R.K. behoort die eerste plek aan Riaan Grobler. Vir die tweede agtereenvolgende week mis prokureur Hennie Aucamp sy wen met sekondes. Die keer slegs twee sekondes. Hy het hardepad bloedlyn duiwe in sy hok, wat beteken dat vanjaar se “Kalahari” rigtingwedvlugte hom soos ‘n handskoen kan pas. Fanie en Louise eindig derde, Arrie en Tienie vierde en Arrie Marais vyfde.

In die algehele punte by M.R.K. vlieg Schlebusch voor met 326 punte.

Arrie Marais (297) is tweede, Des Humpel (203) derde, Willem Moolman en Fanie & Louise saam vierde met 201. By P.P.K is Kiewiet en Christo voor met 676. Saltie en Lettie (526), Sarel Naude (462), Rooikraal hokke (347) en Faan de Beer (300) is die res van die manne wat plekke twee tot vyf volmaak.

Volgende week se wedvlug sal plaasvind vanaf Belmont oor ‘n afstand van 370 km.

“Veilig vlieg ou kleintjie!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button