Groen en goue oomblik vir plaaslike fietsryer
Met fietsry wat deesdae baie aandag en publisiteit geniet, is dit geen wonder dat daar om elke hoek en draai nog plaaslike fietsryers hulle stempel afdruk nie. Riaan Rankin, ’n ou gesig in Potchefstroom wat al 22 jaar die stad sy tuiste maak, is een van hulle. Op ’n baanfiets kraai hy koning en het …
Met fietsry wat deesdae baie aandag en publisiteit geniet, is dit geen wonder dat daar om elke hoek en draai nog plaaslike fietsryers hulle stempel afdruk nie.
Riaan Rankin, ’n ou gesig in Potchefstroom wat al 22 jaar die stad sy tuiste maak, is een van hulle. Op ’n baanfiets kraai hy koning en het die afgelope twee jaar merkwaardige prestasies in baanfietsry behaal.
Sy groen en goue oomblik het aangebreek toe hy onlangs die uitstekende nuus gehoor dat hy gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Wêreld Meesters Baanfietsrykampioenskappe, wat in Oktober in Manchester, Engeland gehou word.
“In die stadium benodig ek nog befondsing vir die wêreldkampioenskappe,” brei hy uit.
Rankin is ’n hoof meganiese ingenieur by M-Tech Industrial en laat die wiele behoorlik rol as hy op die baan doenig is.
“Ek het ernstig fietsry beoefen toe ek jonger was en by die Puk studeer het, maar met baanfietsryfasiliteite by die myne wat agteruit gegaan het in die vroeë 2000’s, het ek oorgeskakel na atletiek in 2005 (veterane atletiek, 100m en 200m). In 2013 het ‘n kniebesering my atletiek deelname beëindig, waar ek toe besluit het om terug te gaan na baanfietsry,” vertel hy.
In hierdie tydperk het hy ’n string mylpale behaal wat hy daadwerklik trots op is en sy vasberadenheid en harde werk uitbeeld.
“Ek het in November 2015 ’n provinsiale rekord in die Flying 200 meter opgestel in die 40-49 ouderdomsgroep met 12.01 sekondes wat die vorige rekord met 0.1 sekondes verbeter,” noem hy. In dieselfde maand was hy ’n spanlid van die interprovinsiale wenners gedurende die Team Sprint by die Johannesburg Grand Prix saam met die voormalige wêreldkampioen Gerrit Scheepers en Lee Kane.
Hierdie jaar het hy reeds ’n provinsiale rekord in die 500 meter staande begin in sy ouderdomsgroep met 36.78 sekondes.
In Maart vanjaar het hy tydens die SA kampioenskappe ’n bronsmedalje in die Match Sprint verower en ook as deel van die Team Sprint-span SA Kampioenskappe gewen. Jacques Fullard, Gert Fouche en Hansie Joubert was sy spanmaats.
Oefening vir hierdie uitdagende sport bly wel vir Rankin ’n uitdaging in die dorp, maar hy maak die beste daarvan, al is daar nie ’n toegeruste baan vir hierdie sport in Potch is nie.
“Ek probeer om by Hector Norris Park Velodrome in Johannesburg redelik gereeld uit te kom, 2-3 keer per maand in afseisoen, en 4-5 keer per maand insluitend kompetisies in kompetisie seisoen,” vertel hy.
“Verder oefen ek op die pad, en gebruik die Potch Dorp fietsryroete (sirkel roete wat Govan Mbekirylaan en Klinkenbergstraat rondom Mooirivier insluit) om weeklikse spoedsessies te doen). In verkeer is dit moeilik maar die uitgemerkte fietsrybaan aan Govan Mbeki se kant is baie handig en ek is dankbaar hiervoor teenoor ons stadsraad.”



