Volkies stoom voort na eindstryd
Na ’n versameling van harde lakke, goeie skopwerk en pragdrieë is daar slegs twee skole wat die voorreg het om vir die Jacob Wilkenstrofee te speel in die Noordwes Luiperds Grootskole-liga eindstryd. Op 23 Julie gaan Hoër Volkskool Potchefstroom en Hoërskool Lichtenburg mekaar die stryd aansê nadat hulle vir onderskeidelik Hoërskool Wesvalia en Potchefstroom Gimnasium …
Na ’n versameling van harde lakke, goeie skopwerk en pragdrieë is daar slegs twee skole wat die voorreg het om vir die Jacob Wilkenstrofee te speel in die Noordwes Luiperds Grootskole-liga eindstryd.
Op 23 Julie gaan Hoër Volkskool Potchefstroom en Hoërskool Lichtenburg mekaar die stryd aansê nadat hulle vir onderskeidelik Hoërskool Wesvalia en Potchefstroom Gimnasium in Saterdag se halfeindstryde op Olënpark uitgeskakel het.
Lichtenburg het vir Gimmies met 31-27 geklop terwyl Volkskool gemakliker vir Wesvalia met 31-19 kaalhande op Saterdag, 11 Junie huis toe gestuur het.
Die eerste halfeindstryd van die dag tussen Liggies en Gimmies was wild en wakker van die begin af gewees met Lichtenburg wat met twee drieë vinnig ingeklim het. Die losskakel Evardi Boshoff se drie was uitstekend na flink werk in die agterlyn.
Gimmies het wel moedig teruggeveg met Bradley Wood wat agter die pale gaan kuier het vir Gimmies se eerste drie. Die haastige Mitchelle van der Merwe het weer eens sy talent vir ’n gaping bewys met ’n uitstekende drie in die hoekie. Gimmies was kookwater in ’n 20 minute periode en hulle het ’n welverdiende voorsprong geniet.
Lichtenburg het wel weer goed teruggeveg danksy drieë van Rabie van Zyl, Boshoff, Luhan Jahns en Cravian Smith. Van Zyl het ook goed geskop en met aanhoudende druk en veggees het hulle op die nippertjie die wedstryd uit Gimmies se hande gevat.
In die tweede halfeindstryd was Volkskool se verdediging en kliniese vertoning genoeg om ’n plek in die eindstryd te besorg. Volkskool was die oorweldigende gunstelinge, maar Wesvalia het seker gemaak dat hul teenstanders sweet. Nes in ’n bokswedstryd het Wesvalia en Volkskool houe gedeel maar Volkskool het sy opponent grond toe gestuur met ’n reeks uitklophoue. Jandré Steyn het Volkskool se eerste drie gedruk na ’n sterk lopie waar hy net ver genoeg gerek het om ’n drie te druk. Ruan von Abo het Volkskool se tweede drie gedruk na ’n aanval wat op hulle eie doellyn begin is. Hardus Pretorius en Gideon Steyn was grootliks verantwoordelik vir hierdie drie met Von Abo wat die finale stempel afgerond het.
Wesvalia het wel altyd ’n kans gehad danksy Justin Basson se akkurate skopvoet wat vier strafskoppe en een doelskop oorgeklits het. Wesvalia het hul eerste drie net voor die einde gedruk danksy haker, Anton Nagel, om ’n greintjie hoop te gee. Die finale uitklophou was teen die einde van die wedstryd toe Volkskool se Gideon Steyn met die geluid van die sirene gaan druk het.
Na ’n naweek van uitstekende rugbyaksie is een ding verseker – die Jacob Wilkenstrofee het ’n nuwe eienaar en besitreg sal oor ’n maand bepaal word.
Uitslae:
1ste spanne: Lichtenburg 31 Gimmies 27
Volkskool 31 Wesvalia 19
2de spanne:
Lichtenburg 21 Gimmies 19
KHS 27 Volkskool 26
3de spanne:
Gimmies 26 Volkskool 16, Lichtenburg 38 KHS 7
o.14 A
Gimmies 48 Lichtenburg 0, KHS 23 Wesvalia 10
o.14B
Gimmies 12 Wesvalia 10, KHS 29 Volkskool 19
o.15A
KHS 44 Lichtenburg 6, Volkskool 22 Wesvalia 12
o.15 B
Volkskool 5 KHS 3, Wesvalia 24 Lichtenburg 15
o.16 A
Gimmies 33 Lichtenburg 26, Volkskool na finaal – Wesvalia het punte gegee
o.16B
Gimmies 18 Lichtenburg 7, Volkskool na finaal – Wesvalia onttrek.



