Vierde een en steeds vuur en vlam
Sunette Viljoen is sinoniem met die sportblaaie van die Potchefstroom Herald. Dit is hier waar haar prestasies, haar hartseer en haar durf ’n tuiste gevind het. Van sowat 2002 toe haar spiesgooi-segetogte in erns begin het tot nou, 14 jaar later op die vooraand van haar vierde Olimpiese Spele wat vanjaar in Rio de Janeiro, …
Sunette Viljoen is sinoniem met die sportblaaie van die Potchefstroom Herald. Dit is hier waar haar prestasies, haar hartseer en haar durf ’n tuiste gevind het.
Van sowat 2002 toe haar spiesgooi-segetogte in erns begin het tot nou, 14 jaar later op die vooraand van haar vierde Olimpiese Spele wat vanjaar in Rio de Janeiro, Brasilië plaasvind.
“Jy weet, so min mense kry die geleentheid om een Olimpiese Spele by te woon, wat nog gepraat van twee. Om so lank op só hoë vlak te presteer is absoluut fantasties. Dit is loopbaan om op trots te wees, “ vertel haar afrigter by die NWU-Puk, Terseus Liebenberg.
Vanjaar het sy reeds twee goue medaljes by Diamantliga-byeenkoste in Doa en Rabat by haar trofeekas gevoeg (hoe groot moet dié nie nou al wees nie?) en alle aanduidings wys op ‘n soveelste tydens die Afrika kampioenskap later vandeesmaand in Durban.
“Dit is sover ‘n baie goeie jaar vir haar. Sy het stadig begin, maar haar opgebou tot waar sy reg is vir die Olimpiese Spele. Dit is presies hoe mens dit moet doen. Verder wil sy die Afrika-titel wen en sy het nou al vier Afrika-titels agter haar naam,” sê Liebenberg.
Gerat en gereed met goeie gemoed: bring maar vir Rio.
“Sy is baie opgewonde en baie gelukkig om weer aan die Spele deel te kan neem. Sy wil dit wen. Sy sê nog altyd: “Hoekom sal mens wil deelneem as jy nie wil wen nie?’”
Op 32-jarige ouderdom is dit bes moontlik haar laaste Olimpiese Spele, hoewel ‘n verskyning by Tokio 2020 geensins van die kaarte af is nie. “Jong, ek dink as jy haar vra sal sy sê dat sy in 2024 nog gaan gooi!”
Want, van opgee, weet sy nie.
“Sunette is ongelooflike harde werker wat altyd haar beste wil lewer. In die 14 jaar wat ek haar afrig het ek haar nog nooit gehoor kla nie. Sy deins doodeenvoudig net nooit terug vir ‘n uitdaging nie.”
Soos sake tans staan gaan Liebenberg sy spogleerder weer by die Olimpiese Spele vergesel. Hy sien seker daarna uit om haar weer op die wêreld se grootste atletiekverhoog te sien?
“Vir seker. Ek voel vir seker so.”



