Gerhard Zandberg bied weer gesogte swemkliniek aan
Die NWU Junior Swemklub bied weer ‘n swemkliniek aan gedurende die skoolvakansie onder leiding van die bekende Olimpiese swemmer, Gerhard Zandberg, met die tema: Strength outside, technique inside. Die kliniek vind plaas vanaf 15 – 17 Julie by Potchefstroom Girls’ High se verhitte swembad en modern-toegeruste gimnasium. Groot klem sal geplaas word op toepaslike oefeninge …
Die NWU Junior Swemklub bied weer ‘n swemkliniek aan gedurende die skoolvakansie onder leiding van die bekende Olimpiese swemmer, Gerhard Zandberg, met die tema: Strength outside, technique inside. Die kliniek vind plaas vanaf 15 – 17 Julie by Potchefstroom Girls’ High se verhitte swembad en modern-toegeruste gimnasium.
Groot klem sal geplaas word op toepaslike oefeninge waar swemmers hul liggaamsgewig gebruik ten einde hul spierkrag, soepelheid, spoed en uithouvermoë te verbeter, terwyl stylkorreksie aandag in die water kry.
Zandberg het Suid-Afrika tydens die 2004- en 2008 Olimpiese Spele verteenwoordig, so ook in vyf wêreldkampioenskappe (2003, 2007, 2009, 2011 en 2013), tydens die Statebondspele van 2006 en 2010, die Afrika Spele van 2007 en 2011 asook die Wêreld Kortbadspele van 2008. Hy het beide die Afrika en Suid-Afrikaanse rekords in die 100m rugslag opgestel tydens die 2008 Olimpiese Spele en dieselfde rekords tydens die 2009 Wêreldkampioenskappe in die 50m rugslag. Sy rekord in die 100m rugslag kon na agt jaar deur Christopher Reid tydens vanjaar se SA Nasionale Kampioenskappe oortref word.
Hy is steeds die Afrika kampioen in die 50m en een van min swemmers uit eie bodem wat selfs die legendariese Michael Phelps van die VSA ‘n les of twee in die water kon leer. Zandberg bedryf deesdae etlike swemskole en is die afrigter van Vikings swemklub in Pretoria.
Die kliniek word ook bygewoon deur swemmers van ander swemklubs in die provinsie, asook die Noordwes Departement van Sport se elite oefengroep.
Navrae kan gerig word aan Willie Scheepers (073 339 6928), afrigter van die NWU Junior swemklub en mede-aanbieder van die swemkliniek.



