Potch se junior Proteas blink in lewensredding uit
Wanneer ‘n mens aan die konsep van lewensredding dink, dan sal daar gewoonlik die prentjie van rooi en geel geklede lewensredders op Suid-Afrika se mooiste strande opduik. Tog het die gebrek aan ‘n strand en seewater nie vir Annien Müller en Rudy van Graan gekeer om hul groen baadjies in die vorm van junior Protea …
Wanneer ‘n mens aan die konsep van lewensredding dink, dan sal daar gewoonlik die prentjie van rooi en geel geklede lewensredders op Suid-Afrika se mooiste strande opduik.
Tog het die gebrek aan ‘n strand en seewater nie vir Annien Müller en Rudy van Graan gekeer om hul groen baadjies in die vorm van junior Protea kleure in die sport van lewensredding te verkry en dan nog boonop aan die gesogte Orange Cup wêreld kampioenskappe in Eindhoven, Nederland verlede maand te gaan deelneem nie.
“Ons was so vyf in die span en elkeen het so tien items in die tweedag-kompetisie gedoen wat op 12 en 13 November plaasgevind het. Die Orange Cup is Nederland se grootste kampioenskappe en hulle nooi lande om saam met hulle te kompeteer,” vertel Müller.
Om Protea kleure te kry, moet ‘n mens baie hard werk en onder die beste swemmers in jou ouderdomsgroep wees om in aanmerking te kom. Daar is ook sekere kwalifiserende tye wat geswem moet word om jou provinsie te kan verteenwoordig. Eers in Augustus word die nasionale lewensredding spanne gekies.
Van Graan, ‘n leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom en Müller van Potchefstroom Gimnasium het albei uitstekend in dié strawwe wêreldklas-kompetisie presteer. Van Graan is twee keer gediskwalifiseer, maar het sy kop hoog gehou en 9de in die junior-ouderdomsgroep geëindig. Müller het ook ‘n 9de, 11de en 13de plek in verskeie items behaal.
“Ek is baie tevrede met my plekke en dit was regtig baie goeie ervaring,” noem Van Graan. “Die moeilike aspek vir ons was dat die swembad drie meter diep was en ons gewoonlik in twee meter diep swembaddens oefen. Dit maak ‘n groot verskil om dan die poppe op die grond te moet kry,” voeg Müller by.
As Müller van poppe praat, dan verwys sy na 70 kilogram voorwerpe wat ‘n mens uitbeeld en teoreties dan gered moet word in verskeie omstandighede en uitdagings.
“Lewensredding is ‘n interessante sport waaraan ek en Rudy eers later begin deelneem het toe ons al tieners was. Ons geniet dit meer as swem. Swem is baie kompeterend, terwyl lewensredding bietjie minder kompeterend is en meer van ’n gesinsatmosfeer het. Jy moet baie sterk wees en harde werk insit,” vertel Müller wat tans nie in Potchefstroom oefen nie, aangesien hier nie afrigting in Potch is nie. “Ons oefen nou in Harties, Durban en Pretoria,” vertel die twee junior Proteas. Van Graan is tans by Potchefstroom Swemklub onder die afrigting van Carine Cronjé waar hy al vyf jaar swem, terwyl Müller by NWU Pukke Swemklub onder die afrigting van Marike van Oort is, ook vir vyf jaar.
“Lewensredding is baie dieselfde as swem. Die enigste verskil is dat jy saam met ‘n pop moet swem. In een van die items moet ons 25 meter swem, dan die pop aan die een kant kry en dan die ander 25 meter saam met die pop swem,” vertel Van Graan.
Daar is verskeie uitdagings en items wat verskeie tegnieke kombineer en lewensredders toets om onder druk te kan werk.
“Jy moet nie stres nie, want jy kan die pop verloor of jou kop teen die hekkies in die water stamp. Dit is regtig uitdagend om 50 meter vryslag te swem en dan nog die swaar pop op die bodem te gaan optel,” vertel Müller.
Buiten die lewensredding in die swembad, is daar ook ‘n ander kant van lewensredding waar deelnemers in die see moet swem en verskeie hindernisse en items moet voltooi.
“Dit is baie meer uitdagend omdat die see onvoorspelbaar is,” verduidelik Van Graan.
Volgens hierdie twee lewensredders is daar ook ‘n klompie miskonsepsies oor hierdie sport. “Sommige mense dink ons moet mense op ‘n daaglikse basis red, en dit is nie waar nie. Dit gebeur selde dat ons moet KPR doen, maar ons kan KPR gee en ons is gekwalifiseerd om in noodsituasies te kan help.”
“Die beste aspek van lewensredding is dat ons elke jaar 20 ure gemeeskapswerk moet insit en fisies aan lewensredding kan deelneem. Ons sal dan byvoorbeeld Midmar Myl of Sun City toe gaan en dan die ure insit. Dit is ‘n mooi sport omdat jy voel dat jy iets positief kan teruggee,” vertel Müller.



