Jong Mooirivier sportseun gaan nou sy talente by Grey Kollege uitleef
Laerskool Mooirivier het in 2016 ‘n multi-talentvolle sportseun in hulle midde gehad en sy prestasies was werklik iets besonders. Rowan Bezuidenhout (13) het verlede jaar behoorlik seker gemaak dat hy by Mooirivier onthou sal word voordat hy vanjaar na die gesogte Grey Kollege gaan om sy hoërskoolloopbaan te begin. Dit is nie sommer by elke …
Laerskool Mooirivier het in 2016 ‘n multi-talentvolle sportseun in hulle midde gehad en sy prestasies was werklik iets besonders. Rowan Bezuidenhout (13) het verlede jaar behoorlik seker gemaak dat hy by Mooirivier onthou sal word voordat hy vanjaar na die gesogte Grey Kollege gaan om sy hoërskoolloopbaan te begin.
Dit is nie sommer by elke kind wat Grey Kollege kom aanklop nie en dit is met goeie rede dat die Potchefstromer dié bekende skool se aandag getrek het. In sy graad 7-jaar het Bezuidenhout die toekenning vir Sportseun van die Jaar by Mooirivier se prysuitdeling ontvang, nadat hy Noordwes in beide die Standard Bank o.13 Krieketweek, sowel as die o.13 Cravenweek verteenwoordig het.
Dit is ook nie sommer Jan Alleman wat in een jaar sy provinsie by die grootste twee krieket- en rugbytoernooie op ouderdomsvlak verteenwoordig nie. Om verder glans aan sy jaar te gee het Bezuidenhout ook Noordweskleure vir hokkie gekry.
“Dit was ‘n goeie jaar gewees en ek is bly oor al die trofeë,” het Bezuidenhout kortliks genoem.
Dit mag dalk net ‘n kwessie van tyd wees voordat hy in voormalige Grey Kollege legendes soos Bismarck du Plessis of Kepler Wessels se voetspore volg.



