Gimmies gee Merensky pakslae op die krieketveld
Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan het die afgelope naweek hul veldtog in die Finsbury-reeks op ‘n baie hoë noot op die Gimmie-oval begin, deur Merensky baie gemaklik met agt paaltjies te klop. Die besoekers van Limpopo is in die 44ste beurt almal teruggestuur pawiljoen toe vir 130 lopies. Vir Gimmies het Jacques Botha met die …

Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan het die afgelope naweek hul veldtog in die Finsbury-reeks op ‘n baie hoë noot op die Gimmie-oval begin, deur Merensky baie gemaklik met agt paaltjies te klop. Die besoekers van Limpopo is in die 44ste beurt almal teruggestuur pawiljoen toe vir 130 lopies.
Vir Gimmies het Jacques Botha met die bal uitgeblink deur vier paaltjies plat te trek in die agt beurte wat hy geboul het. Botha is stelselmatig besig om elke jaar te verbeter en hierdie jaar mag dalk net sy beste een wees.
In die proses staan Botha slegs 26 lopies af. Dit het slegs 24 beurte geneem vir Gimmies om die wenlopies aan te teken met kaptein Vernon Charslund wat 44 lopies bygedra het. Melding moet gemaak word van Divan Mienie wat ‘n blitsvinnige 34 onoorwonne lopies van slegs 14 balle (wat vyf viere en twee sesse insluit) aangeteken het.
Die o.15’s het die langpad Tzaneen toe aangepak en was behoorlik in beheer van sake toe reën die laaste sê gehad het. Merensky is vir slegs 74 lopies uitgeknikker, met Junior Mathe wat vier paaltjies vir 22 lopies in ses beurte geneem het. Dirco Bester het drie paaltjies geneem. Die komende naweek speel Gimmies hul tweede wedstryd in die Finsbury-reeks teen Montana in Pretoria. Die o.15’s speel tuis.



