Photo GalleriesSportSportSports Galleries

Volkies gee Gimmies pakslae op die krieketveld

In sport gebeur dit soms dat ‘n span ‘n perfekte dag op die veld beleef waar alles net reg werk en in plek val. ‘n Span kan ook soms ‘n aaklige dag op die sportveld hê, waar alles wat moontlik verkeerd kan gaan, dan verkeerd gaan. Hoër Volkskool Potchefstroom en Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspanne …

In sport gebeur dit soms dat ‘n span ‘n perfekte dag op die veld beleef waar alles net reg werk en in plek val. ‘n Span kan ook soms ‘n aaklige dag op die sportveld hê, waar alles wat moontlik verkeerd kan gaan, dan verkeerd gaan.

Hoër Volkskool Potchefstroom en Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspanne het daardie twee kontrasterende gevoelens in hulle afgelope Noordwes T20 skoleliga-halfeindstryd beleef toe Volkies vir Gimmies op Gimmiegrond met 10 paaltjies op Woensdag, 15 Februarie geklop het. Dit was ‘n behoorlike eensydige wedstryd waar Volkies met durf en daad van bal een af opgedaag het en Gimmies totaal en al op hulle eie tuisveld laat swaarkry het.

Gimmies het eerste gekolf en 100/9 in 20 boulbeurte aangeteken, voordat Volkies dit in 12.3 boulbeurte oorgesteek het met 45 balle oor in hulle beurt van 101/0.

Volkies se sterre met die kolf was Louis van Schalkwyk met 47 (39) en Vincent Viljoen 51 (36) wat ‘n onoorwonne 101 lopie vennootskap om die eerste paaltjie behou het. Dit was amper asof dié twee kolwers op ‘n totaal en al ander kolfblad hulle lopies geslaan het.

In teenstelling het Gimmies vir elke lopie gesukkel met net Matthew Haupt se 51 (45) balle wat sy skool op die dag trots gemaak het. Haupt kon net nie genoeg ondersteuning kry nie en in sy skool se kolfbeurt kon daar slegs ses grenshoue geslaan word. Geen ander kolwer kon eers dubbelsyfers haal nie.

Al Volkies se boulers het hulle kant gebring, met André Taljaard wat met die beste syfers van 2/19 met sy draaiballe beïndruk het.

Volkies lyk nou beslis soos die span om dop te hou in die T20-formaat en hulle sal weer vanjaar die T-20 Noordwes wenners wil wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button