Pukke wys hulle staal teen Ikeys en fokus nou op Shimlas-stryd
Al het die rugbybal Maandagaand soms soos ‘n stuk seep gevoel en die Fanie du Toit Sportgronde soos ’n vleiland gelyk, het NWU Pukke steeds die vasberadenheid getoon wat ‘n kampioenspan moet wys en vir UCT-Ikeys met 20-15 verslaan. Voor ‘n groot groep getroue Puk studente en ondersteuners wat die stortreën trotseer het, moes die …

Al het die rugbybal Maandagaand soms soos ‘n stuk seep gevoel en die Fanie du Toit Sportgronde soos ’n vleiland gelyk, het NWU Pukke steeds die vasberadenheid getoon wat ‘n kampioenspan moet wys en vir UCT-Ikeys met 20-15 verslaan.
Voor ‘n groot groep getroue Puk studente en ondersteuners wat die stortreën trotseer het, moes die tuisspan opmaak vir hulle nederlaag teen Maties en na 80 minute het die Pukke met ‘n belangrike wen weer die vertroue opgebou. Die telling wat slegs ‘n punteverskil van vyf punte aandui, is ook effens misleidend met Pukke wat ten minste 80% van die tyd die wedstryd goed beheer het.
Pukke se puntemakers was Schalk Hugo wat met twee doelskoppe en strafskoppe Ikeys op die agtervoet gehou het, terwyl Elden Schoeman en Estehgan Visagie vir Pukke oorgeduik het. Ikeys se Lohan Lubbe het ‘n goeie wedstryd vir die besoekers op heelagter gehad en het twee strafskoppe en ‘n doelskop oorgeklits. Gary Porter het in verstreke tyd Ikeys se enigste drie gedruk.
Daar ‘n klomp aspekte waarop Pukke vir die res van die toernooi kan bou. Pukke se afrigter, Jonathan Mokuena is eerstens van mening dat hierdie nat wedstryd juis sy spelers se aanpasbaarheid in situasies ten toon gestel het. “Ek is baie gelukkig met hoe ons teen Ikeys gespeel het. Ons het die bal baie beter in kontaksituasies in die nat weer as teen Maties in droë weersomstandighede hanteer.
Ons het van die begin af geweet dat ons hard sal moet werk en balbesit hou om te wen, veral in hierdie moeilike omstandighede,” het hy gesê. Tweedens was dit ook verblydend om te sien hoe Marno Redelinghuys in die afwesigheid van kaptein Jeandré Rudolph die leisels op die veld geneem het. Derdens was die verdediging van Pukke baie beter en hulle het gewys dat hulle vir elke punt veg, met kruisverdediging wat Ikeys ‘n paar keer van ‘n drie beroof het.
Nou lê die Shimlas voor vir Pukke komende Maandag in Bloemfontein met albei spanne wat op goeie dreef is. Shimlas is tans in vierde plek met 10 punte na drie wedstryde, terwyl Pukke in die tweede posisie op die punteleer is met 13 punte na vier wedstryde. “Ek hoop dat ons nie weer in sulke nat weer speel nie, maar ons moet maar aanpas met wat ons volgende Maandag kry. Dit is ‘n baie belangrike wedstryd en Shimlas gaan beslis ‘n groot aanslag met hulle voorspelers lewer. Hulle word baie goed afgerig en ons sal ons wedstrydplanne agter mekaar moet kry,” het Mokuena vertel.
Hierdie wedstryd skop om 19:00 af en word regstreeks op Supersport 1 uitgesaai.
*In die Steinhoff Koshuisrugbyliga het NWU Pukke se Patria Manskoshuis hulle tweede oorwinning van die seisoen ook met ‘n oortuigende 45-0 oorwinning teen die CUT Rhinos behaal.
Hierdie komende Maandag takel Vishuis (huidige koshuiskampioene) en Patria mekaar weer wat as ‘n voorwedstryd vir die NWU-Pukke/Shimlas wedstryd dien.
Foto’s: Mario van de Wall









