SportSport

Shimlas weer die doring in Pukke se vlees in Rosestad

Dit was alles behalwe maanskyn en rose vir Pukke in hulle Varsitybekerstryd teen Shimlas in die Rosestad met ‘n 35-23 nederlaag vanaand. Onder Shimlapark se spreiligte was die vertoning ‘n bitter pil vir die spelers sowel as die Pukke ondersteuners om te sluk, wat al die pad van Potchefstroom af gereis het. Tog was Shimlas …

Dit was alles behalwe maanskyn en rose vir Pukke in hulle Varsitybekerstryd teen Shimlas in die Rosestad met ‘n 35-23 nederlaag vanaand.

Onder Shimlapark se spreiligte was die vertoning ‘n bitter pil vir die spelers sowel as die Pukke ondersteuners om te sluk, wat al die pad van Potchefstroom af gereis het.

Tog was Shimlas die beter span van die staanspoor af met hulle goeie hande op die aanval en intensiteit by die breekpunte wat definitief iets vir die oog was. Shimlas het veral ‘n uitstekende tweede helfte gehad waar hulle drie puik driëe ingepalm het.

Shimlas was aan die kook van die begin af en kon amper ‘n drie in die eerste 10 minute gaan druk het maar Vuyani Maqina het die bal sentimeters voor die lyn laat val. Kovsies het ook die eerste strafskop pale toe geskop, maar Marco Mason het die bal net-net misgeskop.

Jimmy Mpailane het Pukke se eerste drie aangeteken met ‘n blitsige lopie op die kantlyn wat Kovsies na strooihalms laat gryp het. Mpailane het omtrent verby vyf verdedigers gesnol en in die hoekie gaan druk met Hugo wat ‘n moeilike skop ook oorgesit het om Pukke 9-0 te laat voorloop.

Kovsies het wel vinnig teruggeveg en ‘n drie van hulle eie gaan druk met slot Nicolaas Immelman wat na ‘n goeie dryfbeweging oor is. Marco Mason het wel die skop gemis, en na die eerste 20 minute was Pukke 9-5 voor.

Kovsies het te veel strafskoppe en onnodige foute begaan wat hulle kanse vir ‘n groter voorsprong gekelder het. Keer op keer het Shimlas se agterlyn van Maqina, Lihleli Xoli en Sechaba Matsoele, problem veroorsaak, maar Pukke het soos krygers verdedig vir meer as 10 minute op hulle eie doellyn vir Shimlas gestuit.

Pukke haker, Louis van der Westhuizen en flank Wandile Mazibuko is wel vir herhaalde strafskoppe afgestuur en moes vir 10 minute op afskoelstoel gaan sit.

Met hierdie spelervoordeel het Shimlas uiteindelik Pukke se weerstand gebreek met ‘n sterk skrum wat tot ‘n strafdrie gelei het en so neem Shimlas die voortou met 12-9.

Pukke was kort daarna behoorlik in die moeilikheid met nog ‘n speler wat afgestuur is, sodoende is Pukke met slegs 12 spelers op die veld, nadat Chriswill September vir gevaarlike spel afgestuur is.

Shimlas se Nicholas Naude is wel ook kort daarna met ‘n draagbaar van die veld, na ‘n ernstige besering.

Pukke het bittermin tyd in Shimlas se helfde spandeer en Shimlas het welverdiend die drie punt voorsprong teen halftyd met 12-9 geneem, maar sou voel dat hulle verder moes voorloop met al die balbesit wat hulle gehad het.

Shimlas het weer eens byt in die tweede helfte gewys met skrumskakel Dian Badenhorst wat oorgeduik het.

Shimlas se uitstekende flank, Daniel Maartens, het toe na ‘n praglopie briljante vaart uitgebeeld en vir Tapiwa Mafura afgestoot om met gemak oor te duik. Shimlas was heeltemal in beheer en het met 28-9 voorgeloop na 50 minute.

Pukke het toe wel die agterstand verkort met Wandile Mazibuko se eerste Varsitybekerdrie in die 55ste minuut. Shimlas se atsteman, Nardus Erasmus het toe Shimlas se vierde drie gaan druk om die bonuspunt vir sy span te besorg.

Pukke het wel ‘n laaste bietjie geluk gehad met Morne Strydom wat in die 82ste minuut die laaste punte van die wedstryd aageteken het.

Punte:

NWU Pukke: 23

Doelskoppe: Schalk Hugo, Julian Delicado (2)

Drieë: Jimmy Mpailane, Wandile Mazibuko, Morne Strydom

Shimlas: 35

Doelskoppe: Marco Mason (2)

Drieë: Nicolaas Immelman, Dian Badenhorst, Daniel Maartens, Nardus Erasmus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button