Pukke moet wonde genees teen Wits
Pleisters sal hierdie week op die Pukke se wonde geplak moet word na hulle 35-23 Varsitybeker nederlaag teen die Shimlas die afgelope Maandag in Bloemfontein. In ‘n taai stryd op Shimlapark het die tuisspan se spel vir Pukke verras en hulle met allerhande dorings in hulle vlees gelaat. Dit was juis die spel van Shimlas …
Pleisters sal hierdie week op die Pukke se wonde geplak moet word na hulle 35-23 Varsitybeker nederlaag teen die Shimlas die afgelope Maandag in Bloemfontein.
In ‘n taai stryd op Shimlapark het die tuisspan se spel vir Pukke verras en hulle met allerhande dorings in hulle vlees gelaat. Dit was juis die spel van Shimlas se Daniel Maartens wat menigte laat hande klap het. Nou sal die beste medisyne vir Pukke natuurlik ‘n tuisoorwinning in hulle volgende Varsitybekerwedstryd teen Wits op Maandag 6 Maart wees. Bitter pille sal die manne nie weer wil sluk nie.
“Die Shimlas het ons verras en ons vinnig op die agtervoet gehad. Ek glo nie hulle is ‘n beter span as ons nie, maar hulle het ‘n beter aand gehad,” het Jonathan Mokuena, Puk afrigter na die wedstryd gesê.
Mokuena het ook genoem dat hy wel ongelukkig was met van die skeidsregter se besluite op die aand.
“In ‘n stadium het ons 11 strafskoppe teen ons gehad, terwyl die Shimlas net een gehad het. Sommige besluite was baie 50/50 in my opinie. Ons sal weer na die
beeldmateriaal van die wedstryd kyk om te sien wat verkeerd gegaan het. Emosies het maar hoog geloop,” het hy genoem.
“Ek voel ons het geleenthede gehad, maar dit nie benut nie. Soms was die korrekte besluitneming ook nie daar nie. Nou gaan ons op Wits fokus wat ‘n baie belangrike wedstryd gaan wees.”
Wits se groot wapen teen Pukke sal natuurlik hulle kaptein, Warren Gilbert, se skopvoet wees wat groot skade kan aanrig, veral met Pukke wat in dié stadium hopeloos te veel strafskoppe afstaan. Gilbert is ook ‘n voormalige Puk-speler wat die Fanie du Toit Sportgronde soos die palm van sy hand ken en dit mag ekstra motivering gee om verdere sout in Pukke se wonde te vryf.
“Warren Gilbert is ‘n baie goeie taktiese skopper en ons kan nie bekostig om baie geleenthede vir hom te gee om die wedstryd te beheer nie. Hulle het ook ‘n goeie groep losvoorspelers wat ons onder druk kan plaas,” het Mokuena gesê. ‘n Goeie inspuiting vir Pukke sal die waarskynlike terugkeer van staatmaker kaptein Jeandré Rudolph op agtsteman wees. Marno Redelinghuys en Wandile Mazibuko se spel saam met Rudolph kan ook ‘n groot impak op die wedstryd hê.
Die Pukke en Wits wedstryd sal om 19:00 afskop.
Foto’s: SASPA










