Jagveld vat die pad na Potchefstroom
Kaartjies kan ook nog vanaand by die Snowflake gebou gekoop word teen R100 per person. Moet nie hierdie geleentheid misloop nie!

Potchefstromers sal op Donderdag 2 Maart by die Snowflake gebou die geleentheid kry om die briljante akteurs van die langverwagte nuwe Afrikaanse aksiefilm Jagveld, te ontmoet en die film (met Engelse onderskrifte), geskryf deur die bekroonde meester van die riller-genre, Deon Meyer, heel eerste sien. Jagveld tref fliekteaters regoor Suid-Afrika vanaf 17 Maart. Die film spog met Leandie du Randt, Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Tertius Meintjies en ander gewilde plaaslike akteurs in die rolverdeling.
Die storie in JAGVELD skop af met Emma le Roux (Leandie du Randt), wat op pad huis toe is – na die familieplaas in die Groot Karoo; mooi, sagte Emma, die pasifis en laerskool-onderwyseres. Sy het hierdie pad al ’n duisend keer gery, sonder enige voorval. Maar nie vandag nie, want vandag gaan haar paaie met Bosman en Baz en Jay s’n kruis; en Boela en AJ en Piet s’n.
Bosman (Neels van Jaarsveld), die baasbrein van ’n dwelmsindikaat en ’n psigopaat – is wreed en geweldadig. Baz (Tim Theron) en Jay (Bouwer Bosch) is sy meelopers – moordenaars, monsters. AJ (Danie Putter) en Boela (Edwin van der Walt), die rykmanseuns, is deel van die bende omdat hulle hoop om geloofwaardigheid en vinnige geld in dié wêreld te maak, terwyl Piet, die bangbroek (Luan Jacobs), die swakkeling is wat bykans enigiets vir sy neef Bosman sal doen.
Emma sien hoe dié ses ’n skokkende misdaad pleeg; en hulle sien dat sy hulle gesien het. Nou jag hulle haar soos ’n dier in die Groot Karoo. Sy is mos ’n maklike prooi waarmee hulle gou-gou sal klaarspeel.
Maar, niemand is werklik bewus van wie Emma regtig is nie; dié jagtog verloop dus nie volgens plan nie. Dinge begin uitmekaar val – teen ’n ontstellende spoed. Aanvanklik dryf haat en wraak die bende, maar skielik word oorlewing hulle dryfkrag.
Om hierdie opwindende nuwe uitreiking te vier, het die vervaardigers besluit om Jagveld op ‘n landwye toer te neem – ‘n maand voor dit amptelik in fliekteaters begin wys. Fliekgangers regoor Suid-Afrika kry dus ‘n beurt om die film eerste sien – met sommige van hierdie spesiale voorvertonings wat gaan plaasvind in unieke buitelug-fasiliteite, in ongewone plekke waar flieks nie sommer eksklusief vertoon word nie. Van die akteurs uit die fliek gaan ook hierdie voorvertonings van Jagveld bywoon – om aanhangers te ontmoet en saam te fliek.
Kaartjiebesonderhede en verdere inligting is op die Jagveld Facebook-blad beskikbaar of besoek www.jagveld.co.za
Kaartjies kan ook nog vanaand by die Snowflake gebou gekoop word teen R100 per person. Moet nie hierdie geleentheid misloop nie!



