Wits verras Pukke met vernuf
Die doodse stilte wat op die Fanie du Toit Sportgronde in die 75ste minuut van die Pukke en Wits Varsitybekerwedstryd geheers het, was tekenend van Puk-ondersteuners se ongeloof in wat hulle voor hulle oë sien. Die enigste geluide wat ‘n mens kon hoor was ‘n klop op die skouer en een of twee handeklappe uit …

Die doodse stilte wat op die Fanie du Toit Sportgronde in die 75ste minuut van die Pukke en Wits Varsitybekerwedstryd geheers het, was tekenend van Puk-ondersteuners se ongeloof in wat hulle voor hulle oë sien.
Die enigste geluide wat ‘n mens kon hoor was ‘n klop op die skouer en een of twee handeklappe uit Wits se plaasvervangersbank toe Manuel Rass oorduik na ‘n 40 meter rolmaalbeweging wat Pukke behoorlik oorrompel het.
Spraakeloos en ontsteld het die Pukke ondersteuners vroeg na hulle huise of die naaste kroeg beweeg met die wete dat hulle span in een van die grootste onverwagse nederlae betrokke was.
Wits se 22-13 oorwinning het bewys wat wilskrag, motivering en harde werk vir ‘n rugbyspan kan bring. Pukke het nie ‘n paar sleutelspelers tot hulle beskikking gehad nie en moes in ‘n stadium met 13 manne teen Wits speel. Toe die gekweste tuisspan nie hulle kanse kon benut nie, het Wits soos honger hiënas toegesak.
Wits se kaptein, Constant Beckerling, was na die wedstryd vol lof vir sy span.
“Ons moes onsself bewys dat ons as Wits, hier is om te bly. Ons het as broers saamgestaan en ‘n stelling gemaak. Ons wil ook net vir Pukke dankie sê vir die wedstryd. Dit was ‘n harde wedstryd soos altyd, maar op die ou einde wou ons die wen meer gehad het as julle,” het hy na die wedstryd genoem.
Pukke kon net twee drieë teenoor Wits se drie drieë druk, danksy haker, Louis van der Westhuizen en vleuel, Jimmy Mpailane. Wits se drieë is deur die uitstekende Gianni Lombard, Constant Beckerling en Manuel Rass gedruk.
Foto’s: Mario van de Wall
Tog kan daar nie net na een speler vinger gewys word nie en die hele Puk-span sal nou hulle sokkies moet optrek vir twee groot wedstryde teen CUT en Tukkies. Pukke is tans 5de op die punteleer op 13 punte, met UJ wat tans die halfeindrondte-plek in die vierde plek met 16 punte beklee. UJ het ook nog een minder wedstryd as Pukke gespeel wat in hulle guns tel.
NWU Pukke kaptein, Jeandré Rudolph, het sy teenstanders in blou geloof, maar ook in dieselfde asem gesê dat sy manne nou moet weet dat daar geen tweede kanse is nie.
“Wits het baie goed gespeel gisteraand. Ek dink hulle het hulle geleenthede gebruik op die einde van die dag en ons het nie al ons geleenthede gebruik nie. Ons kon net nie al die balbesit in punte omskep het nie en dit was ons grootste probleem.”
Volgens Rudolph was die nederlaag teen Wits moeilik vir die Puk manne, maar dat hulle nou meer as ooit hulle beste spel aan die einde van die groepfase moet lewer.
“Ons het vir CUT volgende week en dan ‘n af week voor ons teen Tuks speel. Dit is moet wen wedstryde wees om die halfeindstryde te haal. Die ruskans sal ons goed doen en die ouens is positief om steeds goeie rugby te speel,” het Rudolph by nabetragting gesê.
Die skare het ook elke oomblik geniet. Foto’s: Wouter Pienaar























