Sunette smag na spiesgooigoud in Londen
Sunette Viljoen se grootste begeerte is om die spoke van Londen 2012 tot ruste te lê en hierdie gemotiveerde spiesgooi-atleet beplan om hierdie keer in Londen tydens die 2017 Wêreld Atletiekkampioenskappe in Augustus in die Queen Elizabeth Stadion nommer een te wees. Daar waar sy baie hartseer vyf jaar terug beleef het, wil sy nou …

Sunette Viljoen se grootste begeerte is om die spoke van Londen 2012 tot ruste te lê en hierdie gemotiveerde spiesgooi-atleet beplan om hierdie keer in Londen tydens die 2017 Wêreld Atletiekkampioenskappe in Augustus in die Queen Elizabeth Stadion nommer een te wees.
Daar waar sy baie hartseer vyf jaar terug beleef het, wil sy nou trane van blydskap in dié gesogte kampioenskappe ervaar.
Met ‘n gooi van 62.83 in die afgelope Atletiek Suid-Afrika (ASA) Spoedreeks-byeenkoms in Potchefstroom het sy haar seisoen met mening begin en dié 32-jarige atleet glo dat sy tans in die beste fisiese- en geestelike vorm is.

“Ek is baie bly met my afstand en algehele kondisionering. Om vir die wêreldkampioenskappe in my eerste byeenkoms vanjaar te kwalifiseer maak my gelukkig. Ek sit baie harde werk in die afgelope tyd,” het Viljoen na afloop van die byeenkoms genoem.
“Dit was ongelooflik om te sien hoe baie my silwermedalje by die Rio Olimpiese Spele verlede jaar vir die mense van ons land beteken het. Dit gee my ekstra motivering om almal weer trots te maak.”
Volgens Viljoen help haar huidige oefenprogram wat boks, insluit haar baie om lig op haar voete te wees, veral nadat sy 6-7 kilogram met hierdie oefenprogram verloor het.
“Ek voel baie sterk in my hart en ek voel gereed vir die opkomende seisoen. Boks help ook baie om lig op my voete te wees en sterker in my arms te wees wat met die spiesgooi ook help.”
Op die oomblik glo Viljoen dat sy slaggereed vir die wêreldkampioenskappe in Londen sal wees en dat al die ekstra oefening en harde werk juis met Londen 2017, as hoofmotivering haar gedryf het.
“Daar is nie ‘n meer spesiale plek om ‘n gouemedalje te wen, as in die Queen Elizabeth Park nie. Die atmosfeer en ondersteuning daar is altyd ongelooflik. Ek is tans in die beste vorm van my lewe en ek glo dat ek nog daardie 70 meter merk sal behaal. Dit is ‘n afstand wat in my hart is om te behaal en ek glo nog nie my potensiaal bereik nie.”
Iets wat nog altyd onlosmaaklik deel van Viljoen se persoonlikheid en menswees is, is daardie kompeterende suksesgedrewe houding waar opgee nie ‘n opsie is nie.
“Ek het net so ‘n groot liefde en passie vir spiesgooi en om die beste te wees. Ek wil nie tweede beste wees nie. Die belangrikste is dat ek geniet wat ek doen.”
Volgende in die pyplyn vir Viljoen is die nasionale kampioenskappe wat in Potchefstroom in April plaasvind, waar sy dan graag die 65 meter merk sal wil oorsteek.
Die kanse is goed dat Viljoen juis op haar tuisgrond haar soeke na die 70 meter merk op die regte wyse sal begin.



