SportSport

Dit is die hart en siel van klubrugby

Die Jorrie Jordaan kroeg in die Jan Fourie saal is omsingel deur rugbyfoto’s van geeste uit ‘n ander era. Daar is ‘n geraamde Oostelike Provinsie-trui met ‘n foto van Danie Gerber wat vir ‘n Mitre-bal staar soos hy pale toe korrel. Weet nie hoekom moet Gerber skop nie. Dit hang langs ‘n gedenkplaat wat lees: …

Die Jorrie Jordaan kroeg in die Jan Fourie saal is omsingel deur rugbyfoto’s van geeste uit ‘n ander era. Daar is ‘n geraamde Oostelike Provinsie-trui met ‘n foto van Danie Gerber wat vir ‘n Mitre-bal staar soos hy pale toe korrel. Weet nie hoekom moet Gerber skop nie. Dit hang langs ‘n gedenkplaat wat lees: SA Rugby Congratulates Potchefstroom Rugby Club on their 125th Anniversary 1890-2015.

Die reuk van boerewors vul die lug. ‘n Seuntjie met ‘n bloedrooihemp, kort hare en ‘n blou broek met ankers op jaag ‘n prop handeviervoet met ywer. Voor by die ingangshek is daar ‘n springkasteel wat Tomas the Tank Engine naboots. Dit is net na 10. Dit is ‘n Saterdagoggend.

Op Potch Dorp se A-veld is die vrouespanne van Potchefstroom en Matlosana besig om swaarde te kruis. Dit is warm. Mensig, dit is reeds warm. Vandag speel vier vrouespanne en dit is ook die finale ronde van die Presidentsliga met klubspanne van regoor die provinsie wat hul talente by Potch Dorp Rugbyklub kom uitstal.

Onder die Daly-tent sit Frank Redelinghuys en drink ‘n Iron Brew. Wanneer Frank praat word daar nie mooibroodjies gebak nie. Hy is die voorsitter van Potch Dorp-rugbyklub. Hy het vaskopstut vir Potch Dorp en die Luiperds gespeel. ‘Frank the Tank’ het hulle hom genoem.

Wanneer ‘n jong knaap hom kom groet met sy uitgestrekte hand, skud Frank sy blad en sê: “Hoe gaan dit, yster?”

Hy sê die mense praat weer oor Potch Dorp. Die Luiperd Rugby Unie gee toenemend ondersteuning aan die 35 kluspanne in die provinsie en dit wys. Klubrugby is mos tradisie in wat eens as die Wes-Transvaal geken was.

“Dan het ek ook ‘n wonderlike bestuurspan. As komitee het ons besluit om ou tradisies en ou norme terug te bring. Ons het ons ou wapen teruggebring.”

Eugene Fourie, Frank Redelinghuys en Lourens Harmse.
Eugene Fourie, Frank Redelinghuys en Lourens Harmse.

Op die linkerbors van sy maroen knopieshemp pronk ‘n leeu met sy poot op ‘n rugbybal. Agter Frank begin die vrouespan van Mmabatho in wat uitloop op ongeslaagde teenaanval.

“Dit is belangrik vir die ontwikkeling van die spel,” sê hy en wys sy vinger daar waar ‘n losgemaal gevorm word. “Omtrent 95% van die vrouespanne bestaan uit spelers van kleur. Ons moet klubrugby op alle vlakke uitbou, want as klubrugby gesond is, is die land se rugby gesond. Of hoe sê ek, Eugene?”

Die hoofuitvoerendebeampte van die Luiperd Rugby Unie draai om. Sy klubrugby was in die Noord-Vrystaat gespeel. “Nee, dit is so. Dit gaan ook oor bande bou en vriendskappe smee.

Op die veld kan daar dalk ‘n hou of twee uitgedeel word, maar julle is vriende vir die res van jou lewe,” vertel Eugene Fourie. “Jy het ‘n pel in enige dorp in die provinsie.”

En dan kan jy vir Dries Labuschagne in Lichtenburg bel, want jou kar se alternator het 20km buite die dorp bes gegee. Of vir Willie Bekker in Rustenburg, want sy pa het mos met bye geboer en hoewel jy nie met bye boer nie, nog minder ‘n behoefte het om met bye te boer, wonder mens tog soms oor die grootte van korwe.

 

“Dit is waar rugby begin. Die ouens bloei en sweet vir die gees van die spel, nie vir geld nie. Hulle doen dit want hulle wil en vir geen ander rede nie. Dit gaan oor ‘n koue bier na die tyd waar die wedstryd twintig keer oorgespeel word,” sê Frank en voeg by: “Kyk nou maar vir Lourens hier langs my. Hy ry 60 km om te kom afrig. Of Piet wat nou al op pension is, maar van die oggend vroeg tot die aand is hy hier.”

Lourens Harmse is die hoofafrigter van Potch Dorp. Hy’t grootgeword met klubrugby en die nawelstring is nog nie gebreek nie. Hy het hulle almal al gesien. Die karakters. Byname so eiesoortig soos bloedpoeding saam springmielies bedien. Hy het ook gesien hoe die spelerlandskap verander het.

“In ‘n stadium was die gemiddelde speler so tussen 30 en 35. Nou het ons spelers van so jonk as 19 en die gemiddelde speler is so 26. Almal van studente tot ambagsmanne tot aptekers speel saam,” vertel Lourens.

Die veld is die gelykmaker. Dit is waar ‘n renperd en trekos ewe belangrik geag word, hoewel ‘n man se stemtoon ‘n noot van respek aanneem wanneer daar in die trekos se teenwoordigheid gepraat word.

Dis agtermiddag. Lichtenburg en Vaal Reefs spook nou sake uit. Musiek gons en waar daar gelag word, word daar hard gelag. Langs die veld word laatjies Lomu.

‘n Jong paartjie kom met ‘n kosmandjie aangestap. Sy is netjies uitgevat, hy minder so. Hulle fokus om families rugby toe te bring, om klubrugby vir families lekker te maak, het Frank vroeër gesê. Dan loop jy verby hulle by Potch Dorp se hek uit en kyk om na waar daar in die skadu van Olënpark gespeel word. En jy besef: Dis ‘n familie-ding dié.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button