Wat het verkeerd gegaan vir Pukke in die Varsitybeker?
Onverwags en teleurstellend is twee woorde wat die Pukke se 2017 Varsitybekerseisoen die beste beskryf. Onverwags, omdat niemand gedink het dat Pukke, as verdedigende kampioene sesde op die punteleer sou eindig nie. Sodoende behaal hulle nie eers die halfeindrondes nie, die eerste keer sedert 2011 wat dit gebeur. Teleurstellend is die manier hoe Pukke in …

Onverwags en teleurstellend is twee woorde wat die Pukke se 2017 Varsitybekerseisoen die beste beskryf. Onverwags, omdat niemand gedink het dat Pukke, as verdedigende kampioene sesde op die punteleer sou eindig nie. Sodoende behaal hulle nie eers die halfeindrondes nie, die eerste keer sedert 2011 wat dit gebeur.
Teleurstellend is die manier hoe Pukke in sekere wedstryde teen veral Wits en Shimlas gespeel het – wedstryde wat hulle moes wen, maar sleg tweede gekom het. Pukke se laaste hoop was om Tukkies verlede Maandag met ‘n bonuspunt te wen, maar ongelukkig vir die entoesiastiese skare in hulle maroen-kleure was dit ‘n swart dag. Tukkies was een vlak beter as Pukke en het verdien om met 43-28 te wen en sodoende eerste op die punteleer net bo Maties te eindig. Tukkies het Pukke uit die veld geblaas met ‘n 25-7 voorsprong teen halftyd, waar die indrukwekkende skrumskakel van Tuks, André Warner en regtervleuel, Dewald Naudé uitgeblink het. Ondanks ‘n goeie terugvegpoging van Pukke waar hulle op die ou einde vier drieë danksy Elden Schoeman, Wilmar Arnoldi, Walt Steenkamp en Loftus Morrison gaan druk het, was die koeël deur die kerk.
Foto’s: Mario van de Wall/SASPA
‘n Platgeslane NWU Pukke afrigter, Jonathan Mokuena is natuurlik teleurgesteld en voel dat sy span net nie op belangrike tye genoeg druk kon uitoefen nie – basies ‘n seisoen van verspeelde geleenthede.
“Daar was geleenthede teen Tukkies gewees, maar ons besluitneming was nie daar nie. Daar was ook ‘n paar sagte oomblikke in die eerste helfte wat ons die wedstryd op die ou einde gekos het,” het Mokuena gesê.
Volgens die Puk breier het hy teen halftyd vir die manne gesê dat hulle alles in die laaste 40 minute moet gee.
“Dit was goed om te sien dat daardie geloof weer terug was. Na Loftus (Morisson) se drie was die gemoedere hoog. Ongelukkig het daardie swak begin ons gekelder.”

Pukke het op kritieke oomblikke in die seisoen ‘n klomp sleutelspelers, soos kaptein Jeandré Rudolph, Henko Marais en Schalk Hugo afgestaan, maar tog kan dit nie regtig as verskoning gegee word nie. Pukke het daardie x-faktor hierdie jaar gemis en daar sal nou terug na die swartbord beweeg moet word vir volgende jaar se Varsitybeker. Volgende week speel UJ teen Maties en Tukkies teen Shimlas in die halfeindrondes. Verwag ‘n Maties teen Tukkies eindstryd vanjaar.













