Luiperds gaan grom op Olënpark
Die Luiperds het hulle onoorwonne status verlede naweek met ‘n belangrike 38-35 oorwinning teen die Griekwas in Kimberley behou en is tans die voorbok in die sentrale poel van die Supersport-Uitdaagtoernooi. Die naam van hierdie kompetisie is tekenend van die groot uitdaging wat die Luiperds in die land van die Kwaste beleef het, toe hulle …
Die Luiperds het hulle onoorwonne status verlede naweek met ‘n belangrike 38-35 oorwinning teen die Griekwas in Kimberley behou en is tans die voorbok in die sentrale poel van die Supersport-Uitdaagtoernooi.
Die naam van hierdie kompetisie is tekenend van die groot uitdaging wat die Luiperds in die land van die Kwaste beleef het, toe hulle danksy Gideon van der Merwe se drie aan die einde van die wedstryd die wen eers beklink het.
Die Luiperds het ook vyf drieë danksy Tapiwe Mafura, Rowayne Beukman, Van der Merwe en Marno Redelinghuys gedruk, wat ‘n bonuspunt vir die Potchefstromers verseker het.
Dit was ‘n taai wedstryd met die Luiperds wat weer eens goed begin het, en ‘n 24-14 halftyd voorsprong gehad het. In die tweede helfte het die Griekwas verbete teruggeveg en in ‘n stadium voorgeloop met Jan Meyer, Enver Brandt, Ederies Arendse, Wendal Wehr en George Whitehead wat gaan druk het. Tog het die Luiperds hernieude veggees getoon en daardie laaste drie gaan druk vir ‘n skitter oorwinning wat Luiperds afrigter, Jonathan Mokuena (voorheen ‘n Griekwa in sy speeldae) laat glimlag het.
“Die veggees was presies wat ek van die manne gesoek het. Ek is baie gelukkig met hoe die voorspelers in die wedstryd gewerk het. Die nodige tempo en aggressie was daar en sodoende kon die agterlyn ook goeie aanvallende rugby speel,” het Mokuena gesê.
Vrydag 5 Mei speel die Luiperds hulle eerste tuiswedstryd in die Supersport-Uitdaagtoernooi op Olënpark teen die Vrystaat XV, en hierdie wedstryd behoort ‘n behoorlike skouspel te wees.
Die Vrystaat het verlede naweek tweede gekom teen hulle provinsiale bure die Griffons, met ‘n 38-36 nederlaag en hulle sal graag weer hulle seisoen op die wenpad wil stuur.
Vrystaat spog met ‘n bittergevaarlike agterlyn wat enige span sal laat les opsê. Spelers soos Rayno Benjamin, JW Jonker en oud Luiperd, Luther Obi is maar van die bekende name wat rugbyondersteuners voor kan uitkyk.
“Ons sien uit na Vrydagaand se tuiswedstryd, maar ons sit nie ekstra druk op onsself nie. Die belangrikste is om ons natuurlike spel teen Vrystaat te speel. Ons wil ons bes om op hierdie momentum te bou en die ondersteuners goeie rugby te laat sien,” het Mokuena uitgebrei.
Die wedstryd skop 18:00 op Olënpark af. Toegang is gratis en toeskouers kan komberse saambring om vir liefdadigheid te skenk.
Luiperds Span teen Vrystaat XV
- Tapiwe Mafura, 14. Rowayne Beukman, 13. Elden Schoeman, 12. Gerhard Nortier, 11. Gene Willemse, 10. Schalk Hugo, 9. Chriswill September, 8. Juan Language (kaptein), 7. Marno Redelinghuys, 6. Gideon van der Merwe, 5. Walt Steenkamp, 4. Stairs Mhlongo, 3. Morné Strydom, 2. Dane van der Westhuyzen, 1. Johan Smith. Reserwes. 16. Louis van der Westhuizen, 17. Schalk Jooste, 18. HP Swart, 19. Jeandré Rudolph, 20. Wessel Kuhn, 21. Bradley Moolman, 22 Lungelo Gosa.



