Meesteratlete maak Noordwes trots by SA’s
Sentraal Noordwes Meesters Atletiek gaan ’n krag in Suid-Afrikaanse Meestersatletiek word as die prestasies van die drie atlete wat die provinsie tydens die onlangse Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskappe in Kaapstad deelgeneem het, as maatstaf gebruik word. Bul du Toit, sy vrou Dorita du Toit en Jan Prinsloo het met ‘n handvol medaljes huis toe gekom om …
Sentraal Noordwes Meesters Atletiek gaan ’n krag in Suid-Afrikaanse Meestersatletiek word as die prestasies van die drie atlete wat die provinsie tydens die onlangse Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskappe in Kaapstad deelgeneem het, as maatstaf gebruik word.
Bul du Toit, sy vrou Dorita du Toit en Jan Prinsloo het met ‘n handvol medaljes huis toe gekom om daarmee geskiedenis te maak deur die eerste medaljes vir die nuutgestigte provinsie te verwerf. Bul het silwer in die massagooi behaal, terwyl Dorita goud in die paalspring en silwer in die verspring, driesprong en hoogspring items verkry het.
Meer as 450 atlete het vir drie dae in die Groenpunt-atletiekstadion saamgetrek tydens ‘n byeenkoms wat as ‘n hoogtepunt in die geskiedenis van meestersatletiek in Suid-Afrika beskou word.
Volgens Sentraal Noordwes se woordvoerder,Jan Prinsloo, gaan hard gewerk word om die provinsie op die been te bring. ‘n Behoorlike bestuurspan moet verkies word, terwyl kleure en baniere asook ’n kantoor vir die Provinsie gevestig moet word.
“Dit is ook belangrik om die mite die nek in te slaan dat Meestersatletiek vir ou mense is. “’n Atleet van dertig jaar is nie ‘n ou man of vrou nie en die feit dat daar ouderdomsgroepe is vir oud-atlete tot so oud as 100 jaar, maak nie van die kompetisie ’n ouman of ouvrou kompetisie nie. Dit is bloot ‘n voortsetting van atletiek en baie van ons lede kan vir die jonger geslag ore aansit,” sê Prinsloo.



