Deerling behaal rekordtyd in beste wedloop van sy lewe
Van padwedlope en marathons kan jy die ervare en bekende Nico Deerling niks vertel nie. As hierdie atleet noem dat hy verlede Saterdag die beste wedloop van sy lewe gehad het dan kan jy hom beslis glo. Deerling het op Saterdag 20 Mei aan die Forest Run in die Vredefortkoepel deelgeneem waar hy die 30 …
Van padwedlope en marathons kan jy die ervare en bekende Nico Deerling niks vertel nie. As hierdie atleet noem dat hy verlede Saterdag die beste wedloop van sy lewe gehad het dan kan jy hom beslis glo.
Deerling het op Saterdag 20 Mei aan die Forest Run in die Vredefortkoepel deelgeneem waar hy die 30 kilometer kategorie oortuigend gewen het. Hy het in ‘n tyd van 2:59.50 klaargemaak wat ‘n nuwe rekrd in dié wedloop is.
Die tweede atleet, Andrew Beckerling, het in 3:13.30 klaargemaak, wat omtrent 15 minute na Deerling oor die streep gekom het.
“Dit was iets heeltemal anders gewees en definitief die beste wedloop wat ek al in my lewe gedoen het. Die natuurskoon was net ongelooflik gewees.
Om so in die donga af te gaan met die Protea blomme so langs jou is ‘n belewenis.
Dit maak jou dankbaar dat jy die kans het om so iets te kan sien,” vertel Deerling.
“Ek moes vir twee maande intens voorberei vir hierdie wedloop, met die intensie om juis goed te doen. Ek het die Telefoonkoppie op die Klerksdorp pad uitgedraf en ook by die weermagbasis geoefen in my etenstydure,” verduidelik hy.
“Daar was baie meer opdraendes en berge en ek moes myself fisies en geestelik voorberei daarvoor. Op ‘n stadium is jy alleen op die roete met waterpunte wat omtrent 7-8 kilometer uit mekaar versprei is,” voer hy verder aan.
Deerling wil ook graag vir HP Prinsloo van Potch Dorp Krieketklub bedank vir sy bydrae en hulp met sy inskrywingsgeld vir hierdie wedloop.
“Ek het nie altyd al die geld om aan hierdie tipe wedlope deel te neem nie so ek is baie dankbaar dat mense bereid is om te help dat ek my talente kan uitleef.”
Volgens Deerling sal hy weer aan so tipe wedren deelneem, maar stel sy fokus vir eers op die SA Landloopkampioenskappe, waar hy oor ‘n afstand van 21,1 kilometer einde Junie in Port Elizabeth gaan koning wil kraai.



