Nuwe geleenthede en lewenslange herinneringe vir Strydom
Noordwes Krieket en die Potchefstroomse gemeenskap gaan beslis die bekende gesig van Heinrich Strydom mis. Die gevoel is vir Strydom, wat vyf jaar die leisels as Hoofuitvoerende Beampte (HUB) van dié unie gedra het, wedersyds. Hy verruil in Augustus die weste vir die ooste as nuwe HUB van die KZN Dolphins. Dit is ‘n groot …

Noordwes Krieket en die Potchefstroomse gemeenskap gaan beslis die bekende gesig van Heinrich Strydom mis.
Die gevoel is vir Strydom, wat vyf jaar die leisels as Hoofuitvoerende Beampte (HUB) van dié unie gedra het, wedersyds. Hy verruil in Augustus die weste vir die ooste as nuwe HUB van die KZN Dolphins.
Dit is ‘n groot stap in Strydom se krieketlewe, wat al op die ouderdom van ses jaar in Potchefstroom begin lewe kry het as ‘n kranige krieketspeler vir Laerskool Bailliepark.

Sy hoërskoolloopbaan by Potchefstroom Gimnasium het hom verder as krieketspeler laat groei en na meer as 15 jaar se klub- en provinsiale krieket, het Strydom die skuif na krieketadministrasie gemaak en Noordwes Krieket as een van die land se volhoubaarste en suksesvolste unies omskep.
“Senwes Park en Noordwes Krieket gaan altyd in my hart bly. ‘n Ou raak emosioneel as jy terugdink na alles wat jy ingesit het op en van die veld af. Die vriende wat ek hier gemaak het is baie kosbaar. Hier is al soveel spesiale herinneringe in Potch,” vertel Strydom, wat sedert 2012 die pos as HUB beklee het.
Strydom voel ook dat hy die afgelope paar jaar baie saam met sy bestuurspan gegroei het om verskeie doelwitte te bereik. Hy glo ook dat daar beslis kontinuïteit by die unie sal wees wanneer hy finaal uit sy kantoor stap vir die laaste keer.
“My groot doelwit van dag een af was om ontslae te raak van die idee dat Noordwes Krieket ‘n sogenaamde ‘klein unie’ is. Daardie woorde het my aangevuur om ander ‘n punt te bewys. Ons is hier om met die groter unies te kompeteer en beter as hulle te presteer.
“‘n Mens kan nooit ophou om groot te droom nie. Elke aspek van Noordwes Krieket moet in die top drie in die land wees en ek is trots dat ons dit reggekry het,” sê hy.
Hoogtepunte vir Strydom was hoe strukture in sy tyd as HUB in plek geval het, veral ten opsigte van skolekrieket met die bekendstelling van die unieke Noordwes Premierliga-toernooi (NPL) sowel as die kompeterendheid van die SA Skoleweek spanne.
“Ons doelwit om die beste krieket oefenfasiliteit in die wêreld te wees is na ‘n ander vlak toe gevat. Almal oorsee praat met soveel lof oor ons fasiliteite hier in Potch met Senwes Park, die HPI, en NWU Sports Village wat net wêreldklas is. Ons het as gasheer vir Nieu-Seeland, Sri-Lanka, die Wes-Indiese Eilande en ander nasionale spanne hier opgetree, en dit sê iets van die harde werk wat ons insit.”
Nog ‘n hoogtepunt vir Strydom was hoe die Noordwes Dragons se spel die afgelope vyf jaar van krag tot krag gegaan het en hoe spelers op nasionale vlak hul stempel afdruk.
“Die wen teen die Westelike Provinsie die vorige seisoen in die Sunfoil 3-dag reeks was iets ongelooflik. Om oor die 300 lopies op die laaste dag in te haal en ‘n sterk span te kan klop op Nuweland, spreek boekdele van die talent in daardie span. Ouens soos Dwaine Pretorius en Chris Morris wat nou vir die Proteas speel, is ook voorbeelde van die talent wat ons hier bou.”
Dit is vir Strydom ook ‘n riem onder die hart hoe Noordwes Krieket in verskillende opsigte uitgebrei het en met geleenthede ‘n lewe en toekoms vir die plaaslike gemeenskap skep.
Hy los ‘n nalatenskap wat Noordwes Krieket net na groter hoogtes kan neem en al was die skuif na die Dolphins onverwags, blaai Strydom steeds met ‘n geruste hart na die nuwe hoofstuk in sy lewe.
“Dit het vir my vyf jaar vinniger gebeur as wat ek gehoop het om die Noordwes Krieket HUB te word en nou voor ek my oë uitvee, is ek by die Dolphins. Ek het altyd gedink dat ek na die Lions toe sal skuif omdat ek reeds die algemene bestuurder daar is.
“Ek het in my wildste drome nie gedink dat ek die Dolphins se HUB sou word nie. Dit is ’n baie opwindende geleentheid wat vir my voorlê en ek glo dat ek ’n verskil daar sal maak.”
Strydom verlaat wel sy huidige gemeenskap, maar met ‘n doelwit voor oë – om sy nuwe gemeenskap in Durban nommer een te maak en sy vaardighede en kennis sodoende uit te brei wat Suid-Afrikaanse Krieket net na groot hoogtes sal neem.
Hy weet waarheen hy gaan omdat hy weet waar hy vandaan kom.




