
Na slegs een week se Curriebeker-aksie is daar reeds ‘n paar stokke in wiele gesteek, wat die term “gunsteling” betref. Die Pumas het die Leeus geklop terwyl die Griekwas amper ‘n oorwinning teen die Bulle in Kimberley behaal het.
Die verdedigende kampioene, die Cheetahs, lyk gereed om weer dié seisoen puik rugby te speel nadat hulle sushi van die Haaie gemaak het in ’n 61-17 loesing.
Hierdie week is dit die Westelike Provinsie se beurt om vanjaar se Curriebeker reeks te betree, nadat hulle die eerste week ‘n ruskansie gehad het. ‘n Maklike begin sal dit gewis nie wees nie, veral met ‘n reis na Bloemfontein wat op hulle wag.
Daar mag dalk nog bietjie roes in die Streeptruie se pype wees en die Cheetahs sal definitief die gunsteling wees na verlede week se vertoning.
Die Leeus sal ook weer moet begin brul en hulle vat Vrydag die Griekwas aan op Emirates Airline Park in Johannesburg. Ons voorspellers glo dat die Leeus dié keer met volpunte uit die kragmeting sal kom.
Tog wonder ‘n mens of die Leeus juis aan die kortste ent trek, met die dat hulle “A-spelers” nog by Superrugby betrokke is.
In Saterdag se wedstryd vat die Haaie die Pumas in Durban aan en die Pumas sal met hulle eerste oorwinning waar hulle letterlik alles gegee het om die Leeus te klop, weer met dieselfde durf en determinasie aanvat. Die Haaie is nog besig om wonde te lek en die Pumas sal graag nes hulle katvriende die Cheetahs, verder aan die Haaie se wonde wil krap.
Een ding is verseker, vanjaar se Curriebeker is so onvoorspelbaar soos Kaapstad in die winter.





