Excelsior se x-faktor gee die oorwinning teen Overs in Fight Night
Die adrenalien het gepomp, vuiste het geswaai en die skare het luidkeels gejuig, maar toe die stof sak het die manne in die kryt van Excelsior Manskoshuis met ‘n algehele 3-1 oorwinning in vyf gevegte oor Over de Voor Manskoshuis, die laaste sê gehad. Binne in hierdie kryt het dié twee koshuise soos ware sportmans …

Die adrenalien het gepomp, vuiste het geswaai en die skare het luidkeels gejuig, maar toe die stof sak het die manne in die kryt van Excelsior Manskoshuis met ‘n algehele 3-1 oorwinning in vyf gevegte oor Over de Voor Manskoshuis, die laaste sê gehad.
Binne in hierdie kryt het dié twee koshuise soos ware sportmans mekaar respekteer en al was die eindtotaal in die manne van die X se guns, was sport die grootste wenner.
In al vyf gevegte was die spanning hoog en kon ‘n mens sien hoe baie ‘n oorwinning beteken – nie net vir die boksers in die kryt nie maar vir die hele koshuis.
Foto’s: Geveg 1 – Gallop vs Tablet
Die openingsgeveg tussen Cornus “Gallop” Swanepoel en Willem “Tablet” Oosthuysen was ‘n taai ene en die beoordelaars het besluit om dit gelykop te laat eindig. Pure aggresie was die wagwoord hier met albei boksers wat bloedneus met hul trots weggestap het. Hierdie was net ‘n lekker lusmakertjie en toe geveg nommer twee tussen Martin “Tank” Kruger en Bernardus Coetzee begin was daar vuurwerke.
Foto’s: Geveg 2 – Tank vs Bernardus
Hierdie was nie die skoonste en mooiste boksgeveg nie, met Tank wat sy alles probeer het, maar Coetzee was takties te slim en het sy armlengte tot sy voordeel gebruik om buite Tank se bereik te kom. Coetzee het self ook ‘n paar goeie houe ingekry en is as die wenner bepaal. Sodoende vat Overs die voorsprong 1-0.
Die derde geveg tussen Ruan “Fedex” Voster en Muller Lategan was ook naelbyt, maar Fedex het meer ondersteuning gehad en die geveg beheer hoe langer dit aangehou het. Lategan het goed begin en die eerste rondte aggresief ingeklim, maar het later uit stoom uit geraak. Fedex wen dié geveg om dit 1-1 te maak.
Foto’s: Geveg 3 – Fedex vs Muller
Na ‘n kort breek tussen gevegte waar Moses Metro Man vir musikale vermaak gesorg het, en die skare hul kele kon gaan natmaak, het die belangrike vierdie geveg tussen Marco “Oubaas” Mongia en Nathan “Vamp” Kirsten plaasgevind. Van die staanspoor af het Oubaas met sy fiksheid en spoed probleme veroorsaak en die geveg beheer. Dit was definitief die eensydigste geveg van die aand en so het Excelsior weer al die momentum voor die laaste geveg met ‘n 2-1 voorsprong.
Foto’s: Geveg 4 – Marco “Oubaas” Mongia vs Nathan “Vamp” Kirsten
Dylan “Trompie” Botha en Francois “Power” Bosch het die hoofgeveg begin om te sien wie as wenner gekroon sou word. Dit was ‘n harde geveg waar taktiek ‘n groot rol gespeel het. Power het wel meer aanvallend gelyk en meer momentum gehad wat hom ‘n oorwinning gegee het en sodoende Excelsior as die eerste Fight Night wenners bestempel het.
Foto’s: Geveg 5 – Dylan “Trompie” Botha vs Francois “Power” Bosch










































































































































