Volkies se krieketspanne bespreek hul plek in Noordwes eindstryde
Volkies se krieketspanne het die afgelope naweek hulle briljante spel vanjaar voortgesit met hul eerstespan, o.15A- span en o.15B-span wat hul kaartjie na vanjaar se Noordwes eindstryde bespreek het. Volkies se eerstespan het Saterdag vir HTS Potchefstroom met 9 paaltjies op Volkies se A-veld geklop, met die besoekers wat ondanks goeie veggees teen die tuisspan …

Volkies se krieketspanne het die afgelope naweek hulle briljante spel vanjaar voortgesit met hul eerstespan, o.15A- span en o.15B-span wat hul kaartjie na vanjaar se Noordwes eindstryde bespreek het.
Volkies se eerstespan het Saterdag vir HTS Potchefstroom met 9 paaltjies op Volkies se A-veld geklop, met die besoekers wat ondanks goeie veggees teen die tuisspan se eerstes die knie moes buig. HTS het eerste gekolf en was vroeg in die moeilikheid op 17/3 nadat Le Roux White (3/22) en Jannie Claassens (2/5) verwoesting gesaai het met wip en bons van die kolfblad af.
HTS se beste kolwers was Reabetswe Mokgoro wat met 43 (68) en Kamohelo Mbone 23 (71) hulle paaltjies beskerm het en met puik konsentrasievermoë die Volkies-boulers tydelik frustreer het.
White het die 68-lopie vennootskap gebreek toe hy Mbone BVP betrap het en toe Mokgoro sy paaltjie van Louis van Schalkwyk se boulwerk verloor, is die damwal gebreek en kon Volkies HTS vinnig daarna vir 131 uitboul.
Volkies het nie op hulle laat wag nie en het in die 28ste boulbeurt die teiken met die verlies van een paaltjie behaal en op 134/1 geëindig. Vincent Viljoen was die voorste lopiemaker met 69 (76), met Van Schalkwyk wat 37 (41) bydra in ‘n eerste paaltjie vennootskap van 73. Karabelo Matlawe is HTS se beste bouler met 1/41 in 10 boulbeurte. Volkies sal nou vir Gimmies in die Noordwesfinaal na die skoolvakansie aanvat. Volkies se o.15A span het ook dieselfde paadjie as die eerstespan gevolg en vir Wesvalia ook met 9 paaltjies verslaan. Wesvalia kon net 158 almal uit aanteken, voordat Volkies gemaklik die nodige lopies aangeteken het met Niel van Vuuren 63 (53) en Christiaan Bester 36 (22) voor die penne.
Volkies sal teen Rustenburg in die o.15A finaal op hul tuisveld te staan kom. Potch Volkies se o.15B-span het in hulle halfeindstryd vir Hoërskool Brits se o.15A-span met 14 lopies geklop in ‘n spannende wedstryd, waar Volkies se veggees hulle deurgedra het.
Volkies het eerste gekolf en 154 almal uit aangeteken. Jaden McCarthy se 30 (13) en Waldo Kemp se 41 (43) was kritiek in Volkies se kolfbeurt. Volkies se boulers het hulle hande opgesteek met Kemp wat ‘n uitstekende 6/34 behaal het om Brits vir 140 uit te boul. Dit was juis perfek dat Kemp die laaste paaltjie gevat het om die laaste sê te hê.
Kyk die foto’s van se eerstespan oorwinning teen HTS hier: (Foto’s – Wouter Pienaar)



































