Plaaslike fisioterapeut is atlete se geheime wapen
Agter elke suksesvolle atleet is daar ‘n uitstekende fisioterapeut. Hierdie klink dalk nie soos ‘n bekende gesegde nie, maar as ‘n mens die doeltreffende werksverrigting en brandende passie van die Potchefstroomse fisioterapeut, Anita van der Lingen-Venter sien, kan dit net sowel in die HAT opgeneem word. Van der Lingen-Venter is een van die hoofredes waarom …
Agter elke suksesvolle atleet is daar ‘n uitstekende fisioterapeut.
Hierdie klink dalk nie soos ‘n bekende gesegde nie, maar as ‘n mens die doeltreffende werksverrigting en brandende passie van die Potchefstroomse fisioterapeut, Anita van der Lingen-Venter sien, kan dit net sowel in die HAT opgeneem word.
Van der Lingen-Venter is een van die hoofredes waarom bekende nasionale en internasionale atlete graag vir fisioterapie na Potchefstroom toe kom. Vir atlete soos Caster Semenya was Van der Lingen een van die belangrikste skakels tot sukses en die twee se professionele verhouding oor die afgelope jaar het daartoe gelei dat sy in Augustus die kans van ‘n leeftyd gekry het.
“Dit was nog altyd my droom om na die Wêreldatletiekkampioenskappe te gaan en vanjaar kon ek saam met Caster as haar persoonlike fisioterapeut na Londen gaan. Wat ‘n ongelooflike ervaring was dit nie,” vertel Van der Lingen-Venter opgewonde.
Sy het ook ‘n groot rol gespeel om seker te maak dat Semenya in goeie kondisie vir die 2016 Olimpiese Spele in Rio was en sedertdien is sy konstant saam met dié Olimpiese goue medalje wenner op toer na groot atletiekbyeenkomste in die wêreld.

“Wat vir my die lekkerste is, is om atlete te help en hoop te gee wat daar vroeër nie was nie. Om daardie herstelproses te sien en dan te sien hoe hulle presteer, is ongelooflik lekker.
Ek geniet atlete die meeste, omdat ek daardie persoonlike een-tot-een konneksie geniet. Ek weet ook hoeveel deursettingvermoë en opoffering dit vat in ‘n individuele sport soos atletiek,” beaam Van der Lingen-Venter.
Sy was eers by die Shimlas rugbyspan en die Blou Bulle se Cravenweekspan betrokke en het toe verder by atletiek en tennis haar tande geslyp om haar roeping te vind. Die res is geskiedenis.

Deur die jare het sy spesifiek saam met spiesgooiers soos Sunette Viljoen en Justine Robbeson, asook ander Europese atlete soos Christina Oberföll gewerk. Tog het Caster Semenya die meeste indruk op haar gemaak as iemand wat baie gedissiplineerd en nederig in haar suksesse is, terwyl sy die persepsie vorm om altyd positief te bly.
“By die wêreldkampioenskappe het Caster ses keer in twee weke gehardloop. Op die dag wat sy hardloop sal ek haar drie keer sien. Ek sou haar in die oggend voor ‘n wedloop sien en kyk of alles reg is. So ‘n uur voor ek en Caster na die stadion toe gaan sou ek net ‘n paar spiere aktiveer en na ‘n paar klein goed gekyk het. Na wedlope is daar gewoonlik ‘n ysbad-sessie en verdere behandeling van so twee ure. Die volgende oggend is ons weer vroeg op. Dit is harde werk in so ‘n week, maar dit is baie bevredigend,” noem sy.
“Ek het in 2007 by Pukke aangekom en hier begin werk in Potch as ‘n oud-Kovsie. In die afgelope 10 jaar het ek so baie geleer en met soveel verskillende mense gewerk en ook die kans gekry om oorsee te gaan en my werk daar te kan doen.
“Ek kry ook altyd baie ondersteuning van my wonderlike man, Riaan Venter,”sluit sy af.








