Potch spoedvrate kan Saterdag Puma kontrak loshardloop
Plaaslike skoolatlete het komende Saterdag 20 Januarie die gulde geleentheid om hulself in dieselfde kamp as Usain Bolt te bevind wanneer hulle vir Puma kontrakte hardloop. Die jaarlikse nasionale Puma School of Speed Prestige Atletiekbyeenkoms gaan vir die eerste keer in Potchefstroom by die Kenneth McArthur Atletiekbaan plaasvind. Weens die ligging, sal baie plaaslike atlete …

Plaaslike skoolatlete het komende Saterdag 20 Januarie die gulde geleentheid om hulself in dieselfde kamp as Usain Bolt te bevind wanneer hulle vir Puma kontrakte hardloop.
Die jaarlikse nasionale Puma School of Speed Prestige Atletiekbyeenkoms gaan vir die eerste keer in Potchefstroom by die Kenneth McArthur Atletiekbaan plaasvind.
Weens die ligging, sal baie plaaslike atlete vanaf 14-19-jarige ouderdom nou die kans van ‘n leeftyd hê om hulle staal te wys. ‘n Groot wortel in die vorm van ‘n Puma borgskap sal vir die beste van die bestes wag. Bolt, wat die wêreldrekordhouer in die 100 meter vir mans is, is die president van die Puma School of Speed en is een van Puma se bekendste ambassadeurs in die sportwêreld.
Danksy hierdie School of Speed talent identifiseringsprogram kan die land se atletiekblitse nou ook in hulle helde se voetspore volg met ‘n wêreldbekende borg agter hulle naam.
Verlede jaar het Gimmies se Miandi van Staden, die SA kampioen in die dogters o.15 100 en 200 meter item, ‘n Puma kontrak by die School of Speed byeenkoms losgehardloop. Vanjaar is die speelveld nog groter en ‘n paar Potchefstromers het ‘n goeie kans om in Van Staden se Puma-voetspore te volg.
Die SA Puma ambassadeurs, Thando Roto, Jerry Motsau en Rantso Mokopane sal ook by hierdie byeenkoms wees.
Die meeste van die items wat plaasvind sal baangeoriënteerd wees, met ‘n fokus op spoed en krag. Die 100, 200, 400, 800 en 1500 meter sal op die baan plaasvind, met verspring en hoogspring wat die enigste velditems sal wees.
Volgens, Arnold van der Merwe, atletiekorganiseerder van Potchefstroom Gimnasium, is hierdie byeenkoms ‘n uitstekende geleentheid vir plaaslike skoolatlete om hulle talent ten toon te stel.
“Ons is hierdie jaar bevoorreg om die byeenkoms in Potch aan te bied. Die idee is om groot te gaan en soveel moontlik atlete in te skryf. Ons nooi onder meer ook atlete van Orkney, Potchefstroom Boys High, Milner High en HTS Potchefstroom om deel te neem,” het hy genoem.
Die byeenkoms begin om 12:00 en duur tot 20:00, met die aand se verrigtinge wat sekerlik vir vuurwerke op die baan gaan sorg. Toegang is R20. Daar sal ook vroeër in die dag vanaf 10:30 ‘n afrigtingskliniek by die stadion wees voor die skouspel begin.
Atlete kan op www.schoolofspeed.com aanlyn gaan registreer.
Die Potchefstroom been van die Puma School of Speed is die eerste een in die reeks met vier ander byeenkomste wat ook aangebied sal word waaraan atlete kan deelneem:
• 31 Januarie – Universiteit van Johannesburg
• 10 Februarie – Durban
• 26 Februarie – Paarl
• 3 Maart – Tukkies




