NWU los CUT pimpel en pers met groot Varsitybeker-sege
Die NWU het in hulle splinternuwe pers en wit gewaad vir CUT blouoog gelaat met ‘n gemaklike 70-7 oorwinning op die Fanie du Toit Sportgronde in Potchefstroom vanaand (Maandag, 29 Januarie) NWU het in soos ‘n orkaan deur CUT gewaai en nege drieë aangeteken in hulle eerste Varsitybekerwedstryd van die seisoen. NWU het die perfekte …
Die NWU het in hulle splinternuwe pers en wit gewaad vir CUT blouoog gelaat met ‘n gemaklike 70-7 oorwinning op die Fanie du Toit Sportgronde in Potchefstroom vanaand (Maandag, 29 Januarie)
NWU het in soos ‘n orkaan deur CUT gewaai en nege drieë aangeteken in hulle eerste Varsitybekerwedstryd van die seisoen.
NWU het die perfekte begin gehad toe hulle met ‘n drie binne die eerste twee minute hulle rekening in vanjaar se Varsitybeker oopgemaak het. Die ervare slot, Walt Steenkamp het van naby af sy volle lengte gebruik en is oor om die tuisskare te laat juig.
CUT het met hulle eerste aanval ook gevaarlik met die bal gelyk en ‘n paar flink aangee, maar die NWU se verdediging was soos ‘n baksteenmuur waarteen die besoekers gebots het.
NWU het toe kort daarna hulle tweede drie gaan druk met die vleuel Dean Gordon wat in die hoekie oor is na puik agterlynspel op die teenaanval. Schalk Hugo verdoel en die telling is 14-0 in die tuisspan se guns.
NWU se derde drie het sy oorsprong vanaf puik lynstaanwerk gekry met Steenkamp wat die bal na skrumskakel Chriswill September aangegee het voordat die bal vinnig versprei is. Evardi Boshoff het die finale afronding in sy eerste Varsitybekerwedstryd gedoen en danksy Hugo se akkurate skopvoet was die punte voorsprong 21 punte.
CUT het uiteindelik waarde vir hulle balbesit gekry toe hul haker, Tiaan Erasmus met na ‘n rolmaalbeweging oorduik. Heinrich Bitzi verdoel vir CUT oor en teen halftyd is dit 24-7.
Die tweede helfte het ook puik vir die Pukke begin toe Gordon sy tweede drie gaan druk het en die meeste van Hugo se goeie skop in die oop spasie gemaak het. Die bal het gunstig in Gordon se hande geland en hy was soos blits oor die drielyn.
Nog vinniger was NWU se heelagter, Tapiwe Mafura, wat soos ‘n mes deur botter verby CUT se verdediging geglip het en ‘n puik solodrie gaan druk het om die telling na 36-7 te skuif.
Drieë van Gideon van der Merwe en Estehan Visagie het telkaart verder glans gegee en die vyftigtal vir die tuisspan gegee. Visagie het boonop ook sy drie gedruk toe die NWU slegs 13 man op die veld weens die Powerplay gehad het.
Die NWU het die laaste paar minute gedomineer en ul stempel afgedruk as ‘n span om dop te hou vanjaar – al was die opposisie nie die sterkste wat hulle vanjaar nog sal teëkom nie.
Punte:
NWU: 70 (24)
Driee: Walt Steenkamp, Dean Gordon (2), Evardi Boshoff, Tapiwe Mafura (2), Gideon van der Merwe, Estehan Visagie, Henko Marais
Strafskoppe: Schalk Hugo
Doelskoppe: Hugo (7)
CUT: 7
Driee: Tiaan Erasmus
Strafskoppe: Heinrich Bitzi





