Wits nou in NWU se visier hierdie Maandag
Spangees, selfvertroue en spaneenheid is vanjaar drie van die duidelike kenmerke van die NWU se Varsitybekerspan wat elke week toenemend op die voorgrond tree. Na die NWU se oortuigende 58-21 oorwinning teen die Shimlas die afgelope Maandagaand, is die manne van Potchefstroom nou tweede op die Varsitybekerpunteleer. NWU afrigter, Jonathan Mokuena was hierdie week in …

Spangees, selfvertroue en spaneenheid is vanjaar drie van die duidelike kenmerke van die NWU se Varsitybekerspan wat elke week toenemend op die voorgrond tree.
Na die NWU se oortuigende 58-21 oorwinning teen die Shimlas die afgelope Maandagaand, is die manne van Potchefstroom nou tweede op die Varsitybekerpunteleer.
NWU afrigter, Jonathan Mokuena was hierdie week in ’n positiewe luim en glo dat sy span elke week verbeter en as ‘n hegte eenheid speel.
“’n Mens kan sien dat die manne groei en is bly vir mekaar se sukses. Die ouens is bereid om alles in te sit en die wen te verseker. Ek was ook baie bly oor hoe ons plaasvervangers gespeel het. In die tweede helfte het ons ‘n verdere 28 punte aangeteken, wat wys dat die intensiteit daar was,” noem Mokuena.
Teen die Shimlas het die ervare manne in die span hulle hande opgesteek. Die sneeubaleffek hiervan was dat die jonger spelers toe ook hulle staal gewys het. Op losskakel was Schalk Hugo briljant gewees en is met die Speler van die Wedstryd-toekenning beloon. Sy Worcester skakelmaat, Chriswill September het ook bewys hoe belangrik ‘n soliede skakelpaar is en sy werk van agter die skrum was van hoogstaande gehalte. Sy opportunistiese drie waar hy sy eie tikskop ingesamel het, was die aand een van die vele hoogtepunte vir die NWU.
Walt Steenkamp was ook weer ‘n kolos in die lynstane, sowel as die verdediging, en het ‘n paar harde lakke uitgevoer wat die wind letterlik uit die Shimlas se seile gehaal het. Vermelding kan ook aan haker, Louis van der Westhuizen, sowel as senterpaar AK Nela en Evardi Boshoff gegee word na die soveelste puik vertoning.
Die Vrystaters het deurlopend tweede viool met die NWU gespeel wat spel dirigeer het.
Die NWU speel nou komende Maandag teen Wits in Johannesburg, wat ‘n taai stryd sal wees.
In verlede jaar se kragmeting het Constant Beckerling se troepe vir ‘n verrassende oorwinning teen die NWU gesorg. Wits speel vanjaar puik rugby en het amper vir Maties die loef afgesteek in ‘n 30-30 gelykop uitslag. Nadat UJ verlede Maandag vir Wits geklop het, sal hulle op hul tuisveld graag weer vir die NWU ore aansit.
“Ons wil so goed as moontlik voorberei vir die wedstryd teen Wits.
“Ons weet wat ons moet doen en kan nie bekostig om slap te lê nie. Wits het ‘n baie goeie pak losvoorspelers en ook ‘n baie goeie heelagter, Tyrone Green, wat ons sal moet dophou,” het Mokuena gesê.
Photos: Asem Engage











