NWU Atletiekklub is een van wêreld se top toetssentrums
Die top vyf mans spiesgooiers in die wêreld het die afgelope maand die NWU Atletiekklub besoek met die doel om Potchefstroom as een van die befaamde Nordic Sport spiesgooimaatskappy se amptelike toetssentrums in te wy. Johannes Vetter, Thomas Röhler, Andreas Hoffman (almal vanaf Duitsland) sowel as Jakub Vadlejch en Petr Frydrych (albei vanaf die Tseggiese …

Die top vyf mans spiesgooiers in die wêreld het die afgelope maand die NWU Atletiekklub besoek met die doel om Potchefstroom as een van die befaamde Nordic Sport spiesgooimaatskappy se amptelike toetssentrums in te wy.
Johannes Vetter, Thomas Röhler, Andreas Hoffman (almal vanaf Duitsland) sowel as Jakub Vadlejch en Petr Frydrych (albei vanaf die Tseggiese Republiek) is die room van die spiesgooiwerêld wat die NWU Atletiekklub kom besoek het.
Nordic Sport is ongetwyfeld die wêreld se nommer een spiesvervaardiger en die NWU Atletiekklub het nou die geleentheid om die wêreld se top atlete te huisves en die nuutste spiesgooitegnologie tot hulle beskikking te hê.
Volgens die NWU se atletiekbestuurder en spiesgooiafrigter, Terseus Liebenberg, is hierdie nie sommer iets wat elke dag gebeur nie.
Volgens hom is dit ‘n indikasie van die kwaliteit fasiliteite wat die NWU bied dat die wêreld se bestes keer op keer na Potchefstroom terugkeer.
“Met dié dat ons ‘n amptelike toetssentrum vir Nordic Sports is, kry ons spiese van wêreldgehalte en die nuutste prototipes om uit te toets.
“Hierdie spiese ter waarde van sowat R 250 000 gee vir ons hier by die atletiekklub ‘n groot voordeel waar ons atlete weet dat hulle die beste gebruik om bo uit te kom,” sê hy opgewonde.
Benewens die feit dat van die huidige top atlete hulle in Potchefstroom bevind het, was die vise-president van Nordic Sports, Dennis Österberg en die voormalige kampioen en huidige wêreldrekordhouer Jan Železný, ook deel van die bekendstelling.
Dit het verder glans aan die geleentheid verleen. 





