NWU en UJ in groot Varsitybeker halfeindstryd hierdie Maandag
Slegs sewe dae nadat die NWU in ’n klipharde stryd teen Maties op die Fanie du Toit Sportgronde gewikkel was, gaan die Potchefstromers hul op Maandag 2 April weer op dieselfde veld in ’n groot halfeindstryd teen die Universiteit van Johannesburg bevind. Dit is nou maak of breek vir Mokuena se manne wat slegs 80 …
Slegs sewe dae nadat die NWU in ’n klipharde stryd teen Maties op die Fanie du Toit Sportgronde gewikkel was, gaan die Potchefstromers hul op Maandag 2 April weer op dieselfde veld in ’n groot halfeindstryd teen die Universiteit van Johannesburg bevind.
Dit is nou maak of breek vir Mokuena se manne wat slegs 80 minute van ’n eindstryd in ’n Varsitybeker is. Die NWU bevind hul tans in die tweede plek op die punteleer en sal weer vir UJ wil klop soos vroeër in die seisoen met ‘n naelskraap 18-17 oorwinning. Die NWU kom om 16:30 in die eerste halfeindstryd teen die manne van Johannesburg te staan. Maties sal teen Wits speel in die tweede halfeindstryd in Stellenbosch.

Daar bestaan sodoende twee scenarios: Indien die NWU en Maties hulle halfeindstryde wen, sal die eindstryd in Stellenbosch plaasvind – ’n herhaling van die beroemde 2016 eindstryd wat die NWU 7-6 gewen het. Indien die NWU vir UJ wen en Maties verloor teen Wits, sal die NWU op 16 April in ’n tuiseindstryd teen Wits op die Fanie du Toit Sportgronde speel.

Wat in die NWU se guns tel is natuurlik die tuisvoordeel, sowel dat hulle ’n gesonde span het om hulle beste 15-tal te kies om op die veld te draf. UJ kan wel ook nie afgeskryf word nie en hulle kan vir ‘n skok sorg as die NWU nie op hulle hoede is nie.
Dié halfeindstryd skop om 16:30 af en Potchefstromers word gemaan om die pawiljoene weer eens vol te sit en die spelers luidrugtig te ondersteun.
Spelers om dop te hou:
NWU:
Tapiwa Mafura (15)
Schalk Hugo (10)
Tiaan Bezuidenhout (8)
UJ:
Ronald Brown (15)
Tatendaishe Mujawo (14)
Jannes Snyman (2)





