SportSport

NWU se Chederick van Wyk behaal goue driekuns

Dit was ’n Varsity Atletiekbyeekoms van uitsonderlike eerstes vir die NWU die afgelope Vrydag, 23 Maart by die Tuks Stadion in Pretoria waar hul ‘n briljante sege behaal het. Chederick van Wyk was die ster vir die NWU en is as Victor Ludorum aangewys met goud in die 100 meter, 200 meter en 4x 100 …

Dit was ’n Varsity Atletiekbyeekoms van uitsonderlike eerstes vir die NWU die afgelope Vrydag, 23 Maart by die Tuks Stadion in Pretoria waar hul ‘n briljante sege behaal het.
Chederick van Wyk was die ster vir die NWU en is as Victor Ludorum aangewys met goud in die 100 meter, 200 meter en 4x 100 meter aflos. Geskiedenis is verder gemaak toe Lente Pieterse ook goud in die 100 meter behaal het.
Sodoende is daar vir die eerste keer ’n mans en vrouewenner in die 100 meter van dieselfde universiteit by ’n Varsity Atletiekbyeenkoms.
Dit was wel nie genoeg om die algehele titel te buit nie met Tukkies wat op die einde die 2018 Varsity Atletiektitel met ’n skrale 29 punte gewen het. Tukkies het algeheel op 31152 geëindig met NWU wat 2de op 31123 punte staan.

Foto’s: Christiaan Kotzé/SASPA

Tog is daar iets nuut en opwindend oor die NWU se blitsige naellopers wat by hierdie byeenkoms sonder twyfel bewys het dat die NWU Atletiekklub met die beste in die land kan kompeteer en nuwe maatstawwe stel. Voorheen was Tukkies die maatstaf in naellope, maar na hierdie jaar se Varsity Atletiek mag die NWU nou trots vir die eerste keer die kroon dra.
Van Wyk, wat ook ’n persoonlike beste tyd van 10.31 in die 100 meter behaal het en 1129 punte vir die NWU bygedra het, was in die wolke na sy aand van glorie waar hy bo sy eie verwagtinge sy naam onder die kollig geplaas het.

“Eerstens wil ek net al die eer aan die Here gee. Werner (Burger) my afrigter het ook nog altyd in my geglo en my die kans gegee om my beste te behaal. Ek moet ook dankie sê vir die NWU wat ’n groot aandeel in my prestasies het,” noem Van Wyk nederig.

“Alles het baie mooi afgeloop en vir my gaan dit daaroor om myself gedurig te verbeter.

“Ek het die afgelope tyd ook meer selfvertroue. My doel was ook om die 200 meter onder 21 sekondes te hardloop en dit het ek in die finaal reggekry,” voer Van Wyk aan, wat Tukkies se Malisela Senona in die 200 meter finaal met ’n tyd van 20.60 sekondes geklop het. Op die ou einde gaan dit vir Van Wyk oor sy passie vir spoed en liefde vir atletiek. Sy visier is nou op die USSA Atletiekkampioenskappe, einde April.

Related Articles

Back to top button