SportSport

Luiperds los Olënpark

Na 98 jaar het Luiperd Rugby besluit om van Olënpark afskeid te neem en voortaan van hulle tuiswedstryde in die Noordwes-streek te speel. Daar word tans onderhandel om die Luiperds se hoofkwartier na die Fanie du Toit Stadion op die kampus van die NWU in Potchefstroom te verskuif. So het Andries de Kock, hoof uitvoerende …

Na 98 jaar het Luiperd Rugby besluit om van Olënpark afskeid te neem en voortaan van hulle tuiswedstryde in die Noordwes-streek te speel.
Daar word tans onderhandel om die Luiperds se hoofkwartier na die Fanie du Toit Stadion op die kampus van die NWU in Potchefstroom te verskuif.
So het Andries de Kock, hoof uitvoerende beampte van Luiperds Rugby, gister aangekondig.
De Kock het gesê dat die hoofrede vir die besluit veiligheidsgedrewe is. “Ons kan nie ‘n veiligheidsertifikaat kry nie en dit is ‘n wetlike vereiste.” Hy het ook gesê dat daar broodnodige onderhoud aan die pawiljoene gedoen moet word en die nodige fondse is nie beskikbaar nie.
“Geen fondse is die afgelope twee jaar van die plaaslike stadsraad ontvang nie en die partye onderhandel tans oor die aangeleentheid,” het hy gesê.
Die seisoen begin egter vir die Luiperds op Schweizer Reneke op 21 April wanneer hulle teen die Griffons speel in die Supersport Challenge. Daarna is daar ‘n wegwedstryd teen Griekwas en dit word gevolg deur ‘n Sondagwedstryd in Rustenburg op 13 Mei. Dan verskuif die aksie na die Fanie. Die kantore sal voorlopig op Olënpark bly.
*Olënpark was sedert die afstigting van Transvaal in 1920 die tuiste van die provinsiale span, eers as Wes-Transvaal en later as die Luiperds.
Aanvanklik het die veld, wat net een sinkgeboutjie gehad het wat as gemeenskaplike kleedkamer moes dien, Wes/Oos gelê. Dit is eers in 1938 na Noord/Suid geswaai en gras is vir die eerste keer aangeplant.
Voor die besoek van die 1949 All Blacks, is die Koos Pretorius pawiljoen met 1 800 sitplekke opgerig en die kleedkamers is opgradeer.
In 1958, met die besoek van die Britse Barbarians, is die kapasiteit opgeskuif na 9 500. Spreiligte is in 1967 opgerig.
Toe die 1970 All Blacks daar kom speel het, was die kapasiteit 21 000, waarvan 5 500 onderdak kon sit. Teen 1974 was die kapasiteit 24 000.
Hans van Zyl sê in 1995 in Die Mielieboersage die volgende: “Vandag is Olënpark ‘n sieraad vir die WTRU. Die geriewe was nog altyd toereikend en die veld in ‘n puik toestand.”
En nou, 23 jaar later, het die einde vir Olënpark helaas aangebreek.

Mall

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button