“Maties was in alle opsigte beter op die aand”
Die afgelope Maandagaand het die legkaartstukke net nie vir die NWU in die Varsitybekerfinaal teen Maties in Stellenbosch aanmekaar gepas nie en hulle moes toekyk hoe die tuisspan met 40-7 feesvier. Een van die blywendste herinneringe van dié finaal is hoe die NWU in die middel van Matie-mania op die veld ‘n kring gevorm het …
Die afgelope Maandagaand het die legkaartstukke net nie vir die NWU in die Varsitybekerfinaal teen Maties in Stellenbosch aanmekaar gepas nie en hulle moes toekyk hoe die tuisspan met 40-7 feesvier.
Een van die blywendste herinneringe van dié finaal is hoe die NWU in die middel van Matie-mania op die veld ‘n kring gevorm het en eenheid getoon het, ten spyte van die groot teleurstelling. Die wil was daar om te wen, maar Maties s’n was net groter op die dag.
Vir die NWU was dit net een trappie te veel met Maties wat in die skrums en voorlangs oorheers het. Maties se lostrio van Chris Massyn, Marno Redelinghuys en Johann van Niekerk was op top vorm gewees. Hulle giftige agterlyn van Edwill van der Merwe, Duncan Saal en Michal Haznar was ook bitsig en het gedurig momentum verskaf.
Dit was veral Edwill van der Merwe se onderskepdrie net na halftyd wat die groot verskil in hierdie wedstryd was.
Teen halftyd was Maties net 10-7 voor en het ten spyte van geweldige balbesit, nie ‘n groot voorsprong gehad nie. Na Van der Merwe se drie het die krane oopgegaan – al wat die NWU kon doen was om met trots te verdedig en skadebeheer in die laaste 15 minute toe te pas. Elke geleentheid wat die NWU gehad het is gefnuik met Maties wat nie voor hulle tuisskare sou buig nie – geen herhaling van 2016 nie.
Vir die NWU het kaptein, Tiaan Bezuidenhout, sy span se enigste drie gedruk, met Schalk Hugo wat verdoel het. Walt Steenkamp en Johan Retief het ook goed in die slotposisies vertoon en skrumskakel Chriswill September het sy bes probeer om aanval na aanval sonder enige sukses te loods. Volgens NWU afrigter, Jonathan Mokuena was daar natuurlik ‘n besliste droewige atmosfeer na die nederlaag, maar hy glo dat sy span baie uit die eindstryd geleer het.
“’n Span kom om te wen, maar daar kan net een wenner wees en Maties was in alle opsigte beter.
Die keerpunt was daardie onderskepdrie. Dit het so ’n bietjie die wind uit ons seile geneem. ‘n Mens wil nie die kompetisie so afsluit nie. As die spelers na hierdie toernooi beter mense geword het en gegroei het in hulle rugby en op persoonlike vlak, glo ek dat hulle steeds baie positiewe aspekte kan uithaal,” het hy genoem.




