NWU Kanoklub wys hart met eerste oefening van seisoen
Die NWU-Kanoklub het Saterdag 14 April hul voorbereiding vir die rivierseisoen afgeskop met ‘n oefening op die Liebenbergsvlei-rivier tussen Reitz en Tweeling in die Vrystaat. Die NWU-studente het die roete saam met Florida Lake Canoe Club aangepak om rivierervaring op te doen. Die afstand van 33km is sonder veel probleme afgelê en selfs die onervare …
Die NWU-Kanoklub het Saterdag 14 April hul voorbereiding vir die rivierseisoen afgeskop met ‘n oefening op die Liebenbergsvlei-rivier tussen Reitz en Tweeling in die Vrystaat. Die NWU-studente het die roete saam met Florida Lake Canoe Club aangepak om rivierervaring op te doen. Die afstand van 33km is sonder veel probleme afgelê en selfs die onervare roeiers kon daarin slaag om ‘n paar groot “wavetrains” baas te raak, maar ‘n koue swem hier en daar as die boot omval, is maar deel van kanosport.
Met meer as 40 kubieke meter water per sekonde wat oor klippe en om draaie snel, het ‘n mens eintlik meer swemmers verwag, maar die nuwelinge het hul bote goed beheer.
Eniele Roux het gesorg vir die “softy-oomblik” van die dag toe hy ‘n lammetjie na sy ma teruggeneem het, nadat die lam nie self die hoë rivierwal kon opklim nie. Die ergste skade op die oefening was toe Louis Hugo en Emile Jansen van Rensburg ‘n klip vir ‘n brander aangesien het in ‘n stroomversnelling en hul boot se neus feitlik afgebreek het.

“Ons was nogal vinnig in daardie stadium, maar die klip het ons dood gestop. Ek het my “crossbar” middeldeur getrap van die slag,” vertel Emile. Na ‘n halfuur se intensiewe lapwerk, kon hul egter daarin slaag om weer aan die gang te kom en die roete te voltooi, selfs al moes hul elke paar kilometer stop om eers hul boot leeg te maak.
Die enigste beserings wat opgedoen is, is ‘n paar bloukolle, glasvesel op die hande en ‘n bietjie sonbrand. Die roeiklub slyp nou hul tande vir die eerste resies op die Kliprivier in Meimaand. * Video’s en foto’s van die dag se uitstappie is op die klub se Facebook-blad te sien.




