Besering sal nie Language se rugbytoekoms kniehalter
In sy 50ste klipharde wedstryd vir die Luiperds is hulle ysterkaptein, Juan Language se tyd as rugbyspeler in slegs twee minute weens ’n ernstige kniebesering kortgeknip. Toe Language die bal oudergewoonte in ‘n losgemaal twee naweke gelede teen die Griffons in ’n Supersport Uitdaagwedstryd steel, is sy tyd as rugbyspeler ook in ‘n oogwink van …
In sy 50ste klipharde wedstryd vir die Luiperds is hulle ysterkaptein, Juan Language se tyd as rugbyspeler in slegs twee minute weens ’n ernstige kniebesering kortgeknip.
Toe Language die bal oudergewoonte in ‘n losgemaal twee naweke gelede teen die Griffons in ’n Supersport Uitdaagwedstryd steel, is sy tyd as rugbyspeler ook in ‘n oogwink van hom af ontneem.
“Soos ek die bal gesteel het, het twee van die Griffons se spelers skoongemaak en met die momentum het my knie uitgehaak en agtertoe gebuig. Ek het dadelik geweet daar is moeilikheid en dat my seisoen verby is. Alles is af behalwe my MC-ligament. Dit is definitief my grootste besering wat 10-12 maande gaan vat om te herstel.”
As ‘n rugbyspeler wat bekend is vir sy harde werk en tempo waarin hy speel, is Language se naam al talle kere op die krukkelys in sy loopbaan.
Sy beseringslys sluit gebreekte ribbes, graad 1 en 2 enkelbeserings, knie- en skouerbeserings in, om ‘n paar te noem.
“Die idee was dat hierdie jaar my laaste jaar as ‘n speler sou wees. Ek wil graag in rugby betrokke bly en sien nie hierdie besering as die finale hoofstuk in rugby nie. Ek rig tans by Patria af en hou my opsies oop of dit in afrigting of analisewerk is,” het hy genoem.
Die kanse is goed dat Language, wat al kennis van afrigting deur die jare opgebou het, gemaklik in dié rol sal inpas.

Language het sy rugbyloopbaan as Luiperdsspeler in 2014 teen die SWD Arende op Olënpark onder Robert du Preez begin en het in sy eerste wedstryd reeds twee drieë gedruk. Sy rugbyhoogtepunt in ’n Luiperdstrui het in 2015 plaasgevind toe hy as kaptein die Curriebeker Eerste Divisietrofee omhoog gehou het.
“Dit was ‘n harde wedstryd teen die SWD Arende wat ons toe met 44-20 gewen het, dit nadat ons ver agter was teen halftyd. Dit was beslis die beste oomblik van my loopbaan.”
Language voel ook dat hy nog altyd in leierskapposisies geplaas is en as kaptein het hy op die veld met durf en daad gelei.
“Van skooldae op Hoërskool Framesby in Port Elizabeth was ek nog altyd ‘n onderkaptein of kaptein, so dit is iets wat natuurlik gekom het. Ek speel altyd hard en wil ‘n verskil maak en die voorbeeld stel. As losvoorspeler moet jy hard werk en jy kan nie wegsteek nie,” noem hy.
Language het ook goeie tye by College Rovers in Durban beleef waar hy na skool klubrugby gespeel het. Hy het ook vir NWU-Pukke in die 2014 Varsitybeker uitgedraf voordat hy sy laaste merk as speler by die Luiperds gemaak het.
“Rugby was nog altyd goed vir my. Dit het my geleenthede gegee, ek het vriende gemaak en dit gee my geluk.”




