Gimmies se eerste netbalspan vat weer die kroon
Slim taktiese skuiwe, spanwerk, vasberadenheid en ‘n wilskrag om te oorwin was die sleutelbestanddele wat Potchefstroom Gimnasium se eerste netbalspan na ‘n 41-23 rekordoorwinning teen Volkies verlede Vrydag, 25 Mei, gelei het. Gimmies was onstuitbaar na halftyd, waar hulle ritme begin kry het en stelselmatig die oorhand oor hulle teenstanders gekry het. Die wedstryd was …
Slim taktiese skuiwe, spanwerk, vasberadenheid en ‘n wilskrag om te oorwin was die sleutelbestanddele wat Potchefstroom Gimnasium se eerste netbalspan na ‘n 41-23 rekordoorwinning teen Volkies verlede Vrydag, 25 Mei, gelei het.
Gimmies was onstuitbaar na halftyd, waar hulle ritme begin kry het en stelselmatig die oorhand oor hulle teenstanders gekry het. Die wedstryd was vanuit die staanspoor fisiek gewees met albei spanne wat kop-aan- kop in die eerste twee kwarte was.
Gimmies se senter, Dané Holtzhausen, het ‘n uitstekende wedstryd gehad in die middel van die baan, terwyl Nadine Naudé op doel die punte aangeteken het. Agter het Mila Henning en Jonette Labuschagne ook sake vir Volkies bemoeilik om ‘n weg terug in die wedstryd te vind. Toe die eindfluitjie blaas, was daar ‘n mengsel van pure verligting en opgewondenheid vir Gimmies wat op hulle tuisbaan gewys het dat hulle die nommer een netbalspan is. Trane van blydskap het vir beide die afrigtingspan sowel as die spelers gevloei, wat net weer die spesiale impak van so ‘n gesonde tweestryd tussen die twee Potchefstroomse skole versinnebeeld. Daar was nie net donker tye vir Volkies op die netbalbaan nie, met Morné Smit se witwarm o.17A –span wat in hulle wedstryd ’n 19-15 oorwinning behaal het.
Altwee Volkies se o.14A- en B spanne het ook oortuigend gewen en ‘n blink toekoms lê vir hierdie jong spanne voor.
Algeheel kan Gimmies breër glimlag na ‘n suksesvolle netbalvertoning op hulle tuisbaan, waar hulle in ses van die 10 wedstryde die oorwinnaarskroon gedra het.
Foto’s: Wouter Pienaar
















