Potch lewensredders op pad Nederland toe
Twee van Potchefstroom se top lewensredders, Botha du Toit en Bianca Opperman is in die Suid-Afrikaanse junior span opgeneem vir die komende Orange Cup wat op 23 en 24 Junie in Eindhoven, Nederland, gaan plaasvind. Du Toit (Potchefstroom Gimnasium) en Opperman (Potchefstroom Girls High) is altwee deel van die Harties Reflections Swem- en Lewensreddingklub in …
Twee van Potchefstroom se top lewensredders, Botha du Toit en Bianca Opperman is in die Suid-Afrikaanse junior span opgeneem vir die komende Orange Cup wat op 23 en 24 Junie in Eindhoven, Nederland, gaan plaasvind.
Du Toit (Potchefstroom Gimnasium) en Opperman (Potchefstroom Girls High) is altwee deel van die Harties Reflections Swem- en Lewensreddingklub in Hartebeespoort waar hulle onder afrigter, Lynette van Rensburg, skitter.
Altwee hierdie lewensredders het nou die geleentheid om hulle talente by hierdie wêreldkampioenskap ten toon te stel en albei mik hoog om ‘n paar medaljes terug te bring.
Een van die groot dilemmas is dat die toer self befonds moet word. Dit kos R30 000 per swemmer.
Volgens Du Toit se ma Elsa, is daar teen druktyd al R17 000 oorbetaal en is daar nog tyd tot 15 Junie om fondse vir die kampioenskappe in te samel.
“Botha oefen heeltemal op sy eie en beide hy en Bianca presteer regtig goed. Dit is fantasties dat hulle gekies is, maar vir hulle om oorsee te gaan, kos baie,” noem sy.
Vir hierdie twee swemmers om die Proteaspan te haal, moes hulle eerstens kwalifiserende tye swem en dan die top vier tye behaal om gekies te word. Opperman is veral opgewonde en bevoorreg dat sy die span gehaal het en voel dat sy ‘n medalje kan losswem.
“Ek glo ‘n mens moet hoog mik. Dit gaan moeilik wees en daar is baie kompetisie, maar om die beste te wees moet mens die bestes klop. Dit is vir my goed dat lewensredding meer blootstelling kry en vir my is dit ‘n baie aansienlike sport,” noem sy verder.
Du Toit was verbaas toe hy gekies is, maar wil graag die geleentheid met albei hande aangryp.
“My doelwit is om my persoonlike beste tye te kry en ervaring op te bou. Ek dink dit gaan lekker wees om ‘n medalje te kry,” sê hy.
Vir meer inligting rondom befondsing en as lesers ‘n bydrae wil maak, kan Elsa du Toit by 076 619 4207 en Ester Opperman by 082 441 2370 geskakel word.





