Potch duifies wys hulle spoed vanaf Strydenburg
Die Potchefstroomse duiwe het die afgelope naweek vanaf Strydenburg ‘n lekker sterk wind van agter gehad waar hulle vlerke behoorlik ekstra vuur bygekry het. ‘n Ongelooflike spoed van oor die 1600m/min is hier behaal. By die Potchefstroom Posduifklub (PPK) het Nic Stassen se duiwe in die jaaroud-afdeling amok gemaak. Sy duiwe het 1ste, 4de en …

Die Potchefstroomse duiwe het die afgelope naweek vanaf Strydenburg ‘n lekker sterk wind van agter gehad waar hulle vlerke behoorlik ekstra vuur bygekry het. ‘n Ongelooflike spoed van oor die 1600m/min is hier behaal.
By die Potchefstroom Posduifklub (PPK) het Nic Stassen se duiwe in die jaaroud-afdeling amok gemaak. Sy duiwe het 1ste, 4de en 5de plekke behaal met Riaan en Elmarie se duif in die tweede plek en Marnus Nel derde en twaalfde. Die eerste 10 duiwe het binne twee minute by hull onderskeie hokke aangekom.
In die ope-afdeling het Riaan en Elmarie se duiwe die 1ste en 8ste plekke behaal, met Piet Greyling in die 2de en 10de plekke. Arrie Marais se duif eindig hier in die derde plek.
Die volgende PPK lede se duiwe het ook plekke in die top 10 behaal: Faan de Beer vat vierde, Sarel Naudé 5 en 9, Nic Stassen neem posisie nommer 6 en Eddy Bondesio vat ‘n sewende plek.
By die Mooirivier Resiesduifklub pronk Johan Schlebusch se duiwe weer in die jaaroud-afdeling met ‘n goeie wen vanaf Strydenburg. Hier behaal Schlebusch ook ‘n derde, vyfde en sesde plek in die top 10. Willem Moolman behaal ‘n tweede plek hier met ‘n puik vertoning, terwyl Hennie Aucamp se duiwe ook goed met ‘n vierde en tiende plek naam maak.
In die ope-afdeling verhang Moolman weer die bordjie met ‘n uitstekende wen waar hy sy wenduif 49 sekondes voor JJ van Wyk & Seuns in tweede plek eindig. Moolman behaal ook ‘n 7de plek hier in die top 10. Schlebusch se duiwe is hier ook konstant met derde, vierde, vyfde en sesde plekke in hierdie afdeling.
Tans loop Schlebusch nog ver voor as die algehele plasings met 2 555 punte, teenoor Moolman se 1 857 in tweede plek. Hier twee duiweboere is kop en skouers bo die res, met JJ van Wyk en Seuns wat die derde plek met 889 punte beklee. Dit is dieselfde storie in die jaaroud-afdeling met Schlebusch wat ‘n reuse 709 punte voorsprong het teenoor Moolman.
In die ope-afdeling is Schlebusch wel stelselmatig besig om Moolman hier ook in te haal, met laasgenoemde wat net ‘n skrale 11 punte voorsprong het. Moolman is wel nog steeds voor, maar sy duifies sal hulle beste vertoning moet lewer in die komende weke om die top posisie te behou.
Hierdie naweek in week 9 op die kalender, vlieg die duiwe vanaf Colesberg.
Hier vind die eerste van drie unieke wedvlugte plaas. Tydens die wedvlug word al vyf Noordwes duiwe-unies se duiwe gesamentlik gelos. Dit is die eerste van sy soort in ‘n provinsiale wedvlug.
Dit maak die wedvlug baie interessant, asook moeilik omdat die duiwe elkeen na die verskillende dorpe en individuele hokke moet uitbreek.
Die duiwe wat die beste kophou sal die grootste prys op die einde van die naweek behaal.




